Kinderteater op sy beste by die ERT
Jakkie Louw het geen bekendstelling nodig nie en sy poppekasmaats, Felias en Pokkel bekoor oud en jonk so ver hul gaan.

SASOLBURG. – Onlangs het Liewe Heksie en Karel Kat ‘n draai by die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg kom maak tot groot vermaak van oud en jonk.
Met die produksie nog was in die geheue, is dit nou die tyd om kaartjies te bespreek vir die volgende kindertreffer – Felias en Pokkel saam met Jakkie Louw.

Na wat verneem word is Felias en Pokkel twee veldmuise wat hulle in boer Jakkie se huis tuis gemaak het. Die een muis is lank en skraal en slim en die ander een is ‘n kort, ronde, jong muis wat heeltyd vrae vra.
Intussen is daar ook ‘n honger kat waarvoor hul oë moet oophou en wraggies waar ‘n pratende donkie!
Die produksie met baie lag en lekker musiek beloof om oud en jonk te vermaak. Om alles te kroon is daar ook drie boeke oor Felias en Pokkel se avonture wat deur Jaco Jacobs geskryf is en na die vertoning te koop sal wees.
Die opwindende poppekas vertoning vind op Saterdag, 23 Julie om 14:00 plaas. Kaartjies beloop R130 – R160 per persoon en kan by https://www.ltickets.co.za/product/felias-en-pokkel-poppekas-deur-jakkie-louw/ bespreek word.

