Uit my pen … die week in Vaalweekblad
Verdryf die koue met 'n Vaalweekblad in die hand. Hierdie week weer behoorlik gelaai met stories oor oud en jonk. Hier is 'n voorsmakie ...
Dis lekker om ten spyte van die koue sommer ‘n handvol goed-voel stories in die week se Vaalweekblad te hê.
Een ding weet ek, die Vaaldriehoek het baie mense met goeie harte wat ‘n groot verskil maak en dit self nie eens agterkom nie.
In die week se Vaalweekblad maak ons nader kennis met Stephen Venter van Bring Hoop Vanderbijlpark. Ons gaan kuier ook by die jonge Danné Strydom wat graag eendag diere wil red en aktrise wil word.
Dan is daar die twee honde, Annie en Morris, albei met hartseer verledes, wat nou soos adelikes in ‘n plaaslike honde hotel leef en “werk”.
Ons bring hulde aan Leeuwspruit Primêr se gewese hoof, wyle mnr. Piet Sevenster en sommer aan al die pa’s wat nie hierdie Vadersdag meer met ons was nie.
Dan het Vaalpark Primêr ‘n boeresport dag gehou en ons vertel meer oor van die Vaal se jong dansers wat in Spanje gaan dans.
Die blokraai is ook weer besaai met moeilike vrae en lang antwoorde.
Moenie sê ek het jul vertel nie, maar Drie Af se antwoord is IzakDavel. Onthou om dit net so vas te skryf. Taalreëls geld nie altyd in blokraaie nie.
Groetnis en onthou om van Woensdag, 22 Junie jou Vaalweekblad by die naaste groot winkel of vulstasie te kry.
