Yvette – Groot hart vol omgee vir mens en dier
Maak nader kennis met Yvette Wilde alombekend vir haar goeie werk onder mens en dier.
MIDVAAL. – Dis haar glimlag wat mens eerste opval en die manier hoe sy van en met die diere praat.
Yvette Wilde is alom bekend vir die harde werk wat sy insit om soveel as moontlik honde te steriliseer en van kos te voorsien deur haar 50 Shades of Spay organisasie.

Die honde in van die gemeenskappe waar sy werk, ken al haar motor en kom uitbundig aangehardloop om te groet as hulle haar sien.
Die kinders ook, want hul weet sy het nie net ‘n hart vir diere nie, maar ook vir mense.
Yvette is op haar gelukkigste tussen haar diere by die Be Our Guest Retirement Yard.
Hier is plek vir al die “vierpotige oumense”.
Tans is daar ses perde (die oudste is 34 jaar oud), twee skape, drie bokke, drie donkies, ‘n klompie hoenders (almal heet Mrs Brown), ganse, drie honde en twee katte.
Nog vyf honde kom kuier elke dag saam met Yvette.

“Hierdie is my sielsplek,” sug sy tevrede. “Hier is harmonie. Al die diere is hier. Ek sal my man ewig dankbaar bly vir hierdie stukkie hemel.
“Ek het een van my perde hier begrawe en ‘n bankie by sy graf gesit. Van my vorige honde se as is ook hier begrawe en op elke graffie is daar ‘n roosboom geplant,” vertel sy.
Yvette se liefde vir perde en honde kom al van kleins af. Sy het in Fochville en Carletonville grootgeword.
Na skool het sy onderwys by die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege gaan studeer. Haar eerste pos was by haar ou laerskool in Carletonville.
“Die res van die personeel was almal my oudonderwysers,” onthou sy. “Ek het binne die eerste week besef onderwys is nie vir my nie.” Tog het sy twee jaar uitgehou.
Dit het gehelp dat niemand omgegee het dat sy haar hond saam met haar werk toe geneem het nie!
Een Oktobervakansie het ‘n kind in haar klas se pa wat by Sun City gewerk het, vir haar gevra hoekom werk sy nie die Desembervakansie by die casino nie.
Sy het en dit vreeslik geniet. Heel per ongeluk het sy een dag saam met ‘n vriendin by ‘n uitvoerende beampte se kantoor ingestap.
Die vriendin was daar vir ‘n onderhoud, maar dis Yvette wat die werk gekry het. “Ek was die die nuwe betaalstaatbeampte, maar my pa het gedink ek gaan een van daardie gewaagde dansers wees,” lag sy lekker.
Sy het ook haar man Christopher, by Sun City ontmoet. Die twee is hierdie jaar al 33 jaar getroud en het twee kinders.
“Omdat ons albei by Sun City gewerk het, het hulle vir ons die troue gegee. Ek onthou hulle het ‘n spesiale kerkie gemaak en ek het met Chariots of Fire in my ore die paadjie afgestap.”
Yvette het ‘n skerp sin vir humor en lag maklik. Sy geniet dit om stories te vertel, tussen die diere te wees en natuurlik koek te bak.
Dis hoe sy 50 Shades of Spay aan die gang gekry het. “Ek het koeke gebak wat my vriendinne moes koop. Was ook nie lank nie, toe begin hul kla dat hul te veel gewig optel.
“Gelukkig is daar nou al heelwat organisasies en individue wat met die projek help. Veeartsrekeninge is hoog, maar ek probeer soveel as moontlik diere help.”
Onder haar vriende en familie is sy ook bekend vir die spesiale Kerskoeke wat sy elke jaar bak. “Ek begin in Maart al om van die vrugte in die voggies te lê. So maand-vir-maand kom daar goed by en teen November is dit baktyd,” vertel sy met ‘n glimlag.
Dis Yvette, wat sy ook al doen, doen sy met oorgawe. Hart en siel gaan in elke projek, daarvan kan al die gelukkige “vierpoot-oumense” en honde wat gered is en om haar draai, getuig.
