Local newsNewsNews

Annie en Morris – Dis ‘n stertswaai goed-voel storie

Ontmoet Annie en Morris, albei met hartseer verledes, wat nou soos adelikes in ‘n plaaslike honde hotel leef en werk.

MEYERTON. – Annie staan paraat by die hek en wag. Glimlag breed vir die vreemde gas met die notaboek in die hand.

Sy gaan sit regop op die bankie onder die afdak, gereed om my alles en nog wat toe te blaf oor die hotel.

Annie kort nadat sy in 2019 uit die dierehospitaal ontslaan is. Foto: Verskaf

Annie is die algemene ontvangsdame, skakelbeampte en gastebestuurder van die honde hotel waar sy bly.

Sy het haar eie akkommodasie wat sy met haar beste vriend en die hotel se onwillige butler, Morris, deel.

Albei honde is stertswaaiend gelukkig met blink oë en pelse. Beide se stories verdien om in Hollywood treffers omskep te word. Tipiese rags-to-riches verhale.

Waar presies Annie vandaan kom en hoe sy haar eerste sowat ses maande deurgebring het weet niemand nie.

Haar geskrewe geskiedenis begin die dag toe Yvette Wilde haar langs die pad opgetel het. Sy was in ‘n tref-en-trap ongeluk betrokke. Haar agterbeen was sleg gebreek en die voorste se ligamente was vermoedelik af.

Yvette het vir Deonè Longstaff geskakel en gesê sy sal die hond moet laat uitsit, maar toe sy Annie op die tafel by die veearts neersit het sy haar hand gelek.

Weer het Yvette geskakel en gevra of Deonè-hulle na Annie sal kan kyk tot sy weer op die been is. So gesê, so gedaan.

Annie voor haar eie huisie by die honde hotel. Foto: Verskaf

Aan die begin, met twee bene van begin tot end toegedraai, was Annie nie die vriendelikste van honde nie.

Stelselmatig het sy begin ontdooi. Teen die tyd wat die verbande afgekom het, het dit al baie beter gegaan.

Deonè moes haar gereeld optel en dra, want Annie wou nie loop nie. Dit was totdat die honde hotel ‘n jong worshondjie met die naam van Pebbles as gas gekry het.

Pebbles het akkedisse gejaag en dit was nie lank nie toe jag Annie saam met Pebbles.

“Verskeie mense het na Annie kom kyk om haar aan te neem, maar nie een het vir my reg gevoel nie,” vertel Deonè.

Uiteindelik het haar man gesê sy moet maar ophou soek, hulle kan vir Annie hou.

So het Annie haar eie blou huisie met ‘n erf in die hotel gekry. Binne is ‘n gemakstoel, ‘n enkelbed met elektriesekombers en ‘n spesiale mandjie vir Morris.

Morris is ‘n worshondkruising wat ook op ‘n dag langs die pad opgetel is. Oud en verwaarloos met baie kaal kolle op sy lyfie.

Ook Morris het sy weg na die hotel gevind om aan te sterk. Hy en Annie het dadelik gekliek en dit was van meet af ‘n uitgemaakte saak dat die twee albei nou permanente personeel van die honde hotel is.

“Hy is nie eintlik ‘n goeie butler nie,” lag Deonè. “Flirt met die vroulike gaste en verder lê hy in die son en slaap. Annie vat haar “werk” baie ernstiger op.”

Lees gerus meer oor Annie en Morris se avonture op die Facebookblad @baxtersbarkandbreakfast.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button