LifestyleLocal newsNews

Dr. Hans preek eers vir beeste, maar nou vir sy ‘menskudde’

“Dit gaan my ‘n geleentheid gee om my roeping uit te leef en rustig voor te berei vir my aftrede by VUT in 2023. Ek dank die Here vir Sy groot genade dat ek die volle sirkel van my roeping op hierdie ouderdom kan voltooi.”

VANDERBIJLPARK. – ‘n Groot dag het Sondag, 12 Junie, vir dr. Hans Brits (64) en die gemeentelede van NG Oosterlig aangebreek toe hy as predikant bevestig is.

Dr. Hans was nog ‘n bloedjong seun toe hy al ‘n innerlike roeping gevoel het om eendag predikant te word. As kind het hy vir die beeste op sy oom se plaas gepreek, maar sy loopbaan sou ‘n wye draai maak voordat hy nou, meer as 50 jaar later, sy menslike kudde by Oosterlig kom lei.

Dr. Hans het aanvanklik in die onderwys studeer en sy Hoër Onderwysdiploma verwerf, maar in dieselfde tyd ‘n groot liefde vir Drama ontwikkel. Hy was nooit skaam om voor mense op te tree nie: As rasieleier en lid van die studenteraad het hy gereeld geleentheid gekry om sy talente te toon. Hy was in sy finale jaar aan die Universiteit van die Vrystaat toe die Dramadepartement hom vra om ‘n gedramatiseerde stuk by ‘n skoolhoofde-konferensie in Bloemfontein voor te dra. Die bekende Frikkie Wallis, toe nog verbonde aan SAUK-TV, was onder die toeskouers en was só beïndruk met die jong Hans se voordrag dat hy hom genooi het om ‘n oudisie vir die TV-program “Uit en Tuis” te doen.

“Ek was so gelukkig om aangestel te word en het toe as student ‘n welkome inkomste as vryskutkommentator vir dié program verdien,” sê dr. Hans.

By dieselfde skoolhoofde-konferensie is hy ook deur sy voormalige skoolhoof raakgesien, wat hom genooi het om aansoek te doen vir ‘n onderwyspos by sy skool. Só beland die jong Hans toe in sy eerste pos as onderwyser in Odendaalsrus.

“Dit was ‘n geseënde verbintenis,” sê hy. Hy het tot vandag toe kontak met baie van sy oudleerlinge.

Na sowat vyf jaar in die onderwys het hy ‘n aanstelling by die Departement van Onderwys en Kultuur aanvaar, waar hy veral by skole-skakeling in die Vrystaat betrokke was. Tussendeur het hy maar altyd ‘n liefde vir die Teologie en ‘n roeping om predikant te word, gevoel. In dié tyd het hy sy studies hervat en later ‘n aanstelling by die Vaaldriehoekse Universiteit van Tegnologie (VUT) gekry. Hy is nou reeds 32 jaar aan VUT verbonde – sowat 20 jaar daarvan as direkteur van die Departement: Gehalteversekering.

Hy het deur die jare aan verskeie instansies soos die Universiteit van die Vrystaat, Pretoria, die NWU en Unisa studeer en het navorsingstoekennings in sowel praktiese teologie as in universiteitsbestuur ontvang nadat hy sy onderskeie doktorsgrade in dié verskillende dissiplines verwerf het. Hy is by die UP gelegitimeer en het in 2005 ‘n doktorsgraad in Praktiese Teologie (Unisa) en in 2010 ‘n doktorsgraad in Filosofie verwerf. Van sy navorsingsartikels het reeds in vooraanstaande plaaslike en internasionale vaktydskrifte verskyn en hy het ook al referate plaaslik en in die buiteland gelewer. Dr. Hans het as gasprediker reeds honderde kere op plaaslike kansels gestaan, en help sedert Maart 2005 gereeld uit met prediking by Oosterlig. Toe die gemeente se voltydse predikant onlangs ‘n nuwe beroep aanvaar, het die kerkraad dr. Hans genader om hulle verder uit te help as diensleraar met die opdrag: Prediking.

“Dit gaan my ‘n geleentheid gee om my roeping uit te leef en rustig voor te berei vir my aftrede by VUT in 2023. Ek dank die Here vir Sy groot genade dat ek die volle sirkel van my roeping op hierdie ouderdom kan voltooi.” Hy is ook tot skriba van die Ring van Vanderbijlpark verkies.

Hy en sou vrou, Marieda, het twee hoërskoolseuns, Jans en Juan. “My gesin is my primêre ondersteuningsbasis en ek is dankbaar vir die ruimte wat hulle my nog altyd gegun het om my in my loopbaan uit te leef,” sê hy.

In sy vrye tyd skryf hy graag radiodramas en daar lê ook ‘n manuskrip vir ‘n speurverhaal in sy laai. Daarby is hy ‘n natuurmens wat graag saam met sy gesin in die wildtuin om ‘n vuur sit en na dieregeluide luister. ‘n Volledige mens wat nou die volle sirkel van sy roeping beleef.

 

Dr. Hans Brits, wat Sondag as leraar van NG Gemeente Oosterlig bevestig is.

 

*******************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button