Local newsNewsNews

Inwoners sê Emfuleni se gefokusde nooddiensleweringsprogram baar sover ‘n muis

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se gefokusde nooddiensleweringsprogram wat aan die begin van Junie van stapel gestuur is om dienslewering te verbeter het Woensdag (22 Junie 2022) onder skerp kritiek deurgeloop tydens 'n ope vergadering van Drie Riviere se wykskomitee.

VEREENIGING. – Die program sal van Junie tot 15 Desember duur waartydens daar op verskillende wyke in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gekonsentreer sal word.

Die doel van die program is om dienslewering te verbeter met die verskillende afdelings van die munisipaliteit (elektrisiteit, afvalbestuur, paaie en stromwaterdreine, water en sanitasie, parke en begraafplase) wat hul kragte saamsnoer om te verseker dat dienslewering geskied.

Emfuleni-burgemeester Sipho Radebe maak beloftes tydens die bekendstelling van die gefokusde nooddiensleweringsprogram. Foto: Christiaan Cloete

Maar na ‘n maand van die program is inwoners dit eens dat wat tydens die bekendstelling van die program belowe is en wat werklik in terme van dienslewering gedoen is hemelsbreed met mekaar verskil.

Shayne Welman, ‘n inwoner van Drie Riviere wat die bekendstelling van die gefokusde diensleweringsprogram bygewoon het, meen die doel van die program was vir die verskillende departemente van die munisipaliteit om saam te werk, maar terwyl ‘n waterlek in Palmstraat reggemaak is word daar steeds vir die departement van paaie gewag om die pad reg te maak wat in die proses beskadig is.

Die probleem raak talle inwoners, veral bejaarde inwoners, wat in die omgewing bly.

Welman meen die munisipaliteit se oggend en aandpraatjies stem nie ooreen nie.

Maureen Dosoudil, wyksraadslid van Wyk 5 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het tydens die vergadering gesê die nooddiensleweringsprogram is ongetwyfeld ‘n “monumentale flop” maar inwoners gevra om nogtans met hul wykskomitees saam te werk om probleme in hul gemeenskappe op te los.

Maureen Dosoudil, ‘n raadslid van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit meen die program is ‘n “monumentale flop”. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Dalene Venter, raadslid vir Wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munsipaliteit, is daar sedert 1 Junie altesaam 186 waterlekke in Drie Riviere gaangemeld, waarvan daar slegs 3 suksesvol reggemaak is en twee onsuksevol reggemaak is.

Vir die selfde tydperk is 129 rioollekasies aangemeld waarvan talle nog nie reggemaak is nie.

Inwoners het wel hul dank teenoor die munisipaliteit se parke-afdeling betuig vir die werk wat hulle gedoen het om gras by verskeie parke te sny en bome te snoei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button