Kommer oor toename in haweloses en verlate eiendomme in Drie Riviere
Daar heers kommer oor die groeiende aantal verlate eiendomme in Drie Riviere, sowel as 'n toename in hawelose mense in die area.
VEREENIGING. – Volgens Daniel Lumbala, ‘n lid van Drie Riviere se wykskomitee, is daar tot dusver 25 verlate huise in die die woonbuurt aangemeld.
Hy het op Woensdag 22 Junie 2022 terugvoer aan inwoners gegee oor kwessies in die buurt tydens ‘n ope vergadering van Drie Riviere se wykskomitee.
Baie van die huise word volgens Lumbala beset deur haweloses en in meeste gevalle van enige iets met waarde gestroop.
Volgens Lumbala is die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en die departement van maatskaplike ontwikkeling oor die kwessie van haweloses in die area genader, maar dit is ‘n stap-vir-stap proses wat gevolg moet word om die mense te verskuif.
Intussen het die wykskomitee van Drie Riviere ‘n beroep op mense gedoen om verlate eiendomme in die area aan te meld.
