Local newsNewsNews

Talentvol en vasberade om diere te red

Ons gaan kuier ook by die jonge Danné Strydom wat graag eendag diere wil red en aktrise wil word.

VANDERBIJLPARK. – Danné Strydom is ‘n besige jonge dame. Die graad 6-leerling hou haar ma behoorlik besig met al haar buitemuurse aktiwiteite. Daar is netbal, swem, perdry en natuurlik drama.

Sy is ewe tuis op die verhoog as op ‘n perd se rug. Sy het 6 A++ toekennings verower by haar eerste Vaaldriehoek Kunstefees en is op die oomblik hard aan die repeteer vir die 10-stuks voordragte wat sy hierdie jaar wil doen.

Danné Strydom (11) dink ver en droom groot.

Sy verduidelik sy gaan onder meer aan redenaars deelneem en dan is daar haar Afrikaans- en Engelse monoloë, prosastukke en poësie.

Lyk heel verbaas toe die joernalis nie weet wat is die verskil tussen Afrikaanse gedigte en Afrikaanse Gedramatiseerde gedigte nie. “Die gedramatiseerde een het bewegings by,” help sy my reg.

Haar dramaklasse lê Danné na aan die hart. Dit was juis deur die dramaklasse wat sy gehoor het van die Speel Toneel oudisies in Pretoria.

Oor die 2000 mense het ingeskryf en uiteindelik is 54 gekies wat onder leiding van Suid-Afrika se bekende akteurs soos Izak Davel, ‘n gevorderde dramakursus gedoen het.

Danné is deur Izak gementor en oor Oom Izak kan sy nie uitgepraat raak nie. Sy vertel opgewonde hoe sy met dieselfde teks monoloë moes uitwerk in verskillende genrés soos komedie, romanse en riller.

Keer vinnig as haar ma vir my die video’s wil wys. “Nee, dit was aan die begin. Ek het intussen baie geleer,” protesteer sy.

Een maal ‘n maand het die verkose Speel Toneel akteurs en aktrises in Boksburg bymekaargekom waar hul verder meer van filmwerk geleer is en ook hul eie kortfilms moes skryf.

Haar kortfilm se naam is Kris Kras en dit gaan oor die kruisies teen jou naam. Sy vertel die hele storie en dis duidelik dat natuurbewaring haar na aan die hart lê.

Dis seker die dat sy die held van haar verhaal van renonsterstroper tot wildbewaarder verhef wat uiteindelik sy lewe vir die renosters aflê.

Oor natuurbewaring en herwinning is sy baie ernstig. In haar kop broei verskeie idees oor hoe die aarde gered kan word.

Dié dat sy ook baie hard aan haar akademie werk. Eendag gaan sy wildbewaarder word en aktrise. Verkieslik internasionaal, want sy gaan die geld gebruik om ‘n wêreldorganisasie te bedryf wat diere red.

Dan wil sy ook ‘n reservaat vir wilde perde begin. “Dis nie reg dat hulle so geslag word nie,” sê sy kwaai en voeg by dat sy ook teen dolfynjag in Indonesië gekant is en dat daar meer aandag aan aardverwarming gegee moet word.

“Ons gee ook nie genoeg aandag aan vleilande nie,” sug sy.

Dis duidelik Danné is op ‘n missie. Sy is vasberade en glo dat sy ‘n verskil kan maak. En sy gaan nog, maar vir eers is sy opgewonde oor die kortfilm waarin sy gaan speel wat in September in Mpumalanga geskiet gaan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button