Local newsNewsNews

Beurtkrag ontwrig munisipale rede

Die burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, raadsheer Peter Teixeira, het beloof dat beurtkrag mettertyd iets van die verlede sal wees vir sy munisipaliteit nadat beurtkrag Dinsdag (28 Junie 2022) so byna sy munisipale rede in die wiele gery het.

HENLEY-ON-KLIP. – Die speaker van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, raadslid Alan McLoughlin, was besig om gaste te verwelkom toe die krag meteens afgegaan en die saal van die Assemblies of God-sentrum in duisternis gedompel is.

Dames en here, dit lyk of beurkrag ons pas getref het,” het McLouhlin op sy droë manier tot die vermaak gaste aangekondig.

Gelukkig het die beplanners die moontlikheid van kragonderbrekings voorsien en gesorg dat daar ‘n kragopwekker byderhand is.

Die krag was binne ‘n paar minute aan en Teixeira kon later met sy toespraak voortgaan.

Die klein kragopwekkertjie wat kon. Foto: Christiaan Cloete

In die paar minute wat daar gewag is vir die kragopwekker om in werking gestel te word, het die seremoniemeester, raadsheer Phil Pretorius, sy selfoonflits gebruik om die papier met McLoughlin se notas op te verlig.

Dit het McLoughlin gehelp om sy toespraak te voltooi.

Raadsheer Phil Pretorius verlig die speaker se notas sodat hy sy verwelkomingstoespraak kan voltooi. Foto: Christiaan Cloete

Oor die kwessie van energiesekerheid het Teixeira later tydens sy toespraak gesê: “Die gebrek aan energiesekerheid is onaanvaarbaar in ‘n wêreld wat in die rigting van groen tegnologie en omgewingsvriendelike en volhoubare energie beweeg.

Die nuwe administrasie sal die munisipaliteit se strategie ten opsigte van skoon energie finaliseer. Die plan sal kragverbruik van die munisipaliteit, sowel as vir kragverbruikers verminder.

In ‘n poging om energie te spaar, nuwe tegnologie te omarm en ons eie verbruik van elektrisiteit te verlaag, het ons departement vir ingenieursdienste ‘n 6 kW fotovoltaïese opwekkingseenheid by ons Randvaal kantore, sowel as by ons kliëntedienssentrum laat installeer.

Dit sal verseker dat dienste selfs tydens beurtkrag onverhinderd kan voortgaan.”

Teixeira het ook gesê dat die munisipaliteit besig is om van onwettige kragverbindings ontslae te raak.

In die afgelope ses maande het die munisipaliteit verliese van elektrisiteit vanaf 18.1% tot 9.7% verlaag, en ek dink dit verdien ‘n applous,” sê hy.

Teixeira sê dat inwoners van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit teen die einde van 2026 in die posisie wees om alternatiewe energie van onafhanklike kragverskaffers te verkry.

Volgens Teixeira sal die munisipaliteit se ingeneurs by sustermunisipaliteite in die Wes-Kaap leer hoe om minder afhanklik van die Suid-Afrikaanse kragnetwerk te word.

Ons kan baie leer by die munisipaliteite van Kaapstad en Stellenbosch wat reeds besig is om die weg te baan in terme van enerie-selfonderhoudendheid,” sê Teixeira.

Beurtkrag sal ‘n ding van die verlede wees in hierdie munisipaliteit.”

Hierdie munisipaliteit is besig om te kyk na maniere en tegnologië wat kan help om ons afhanklikheid van Eskom drasties te verminder.

Die burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, raadsheer Peter Teixeira, sê beurtkrag sal mettertyd iets van die verlede wees vir die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button