Dis mistig buite – sit aan die hoofligte!
RUBRIEK. - Om in die mis te ry is gevaarlik, sit aan daai hoofligte of beter bly by die huis en drink warm koffie!
VANDERBIJPARK. – Dis koud vanoggend. Vanderbijlpark het weer ‘n vaal mis-karos oor en selfs die honde wou nog nie hul neuse onder die komberse uitsteek nie.
Mistigheid in die Vaaldriehoek is altyd vir my so mistroostig. Asof selfs die natuur wil sê, dis winter magtag, loop klim terug in die bed.
Ek onthou die dae wat ek op Graskop gebly het. Daar het die mis herinner aan ‘n sagte wit kombers wat snoesig oor die dorp vou.
Ook net solank jy in die dorp gebly het. Het jy deur die mis probeer ry, was dit soos ‘n wit muur van duisternis waardeur jy moes beur om aan die anderkant uit te kom.
Daar sak die mis mos vir dae toe op ‘n slag saam met die misreën wat so saggies-saggies sif.
Alles goed in wel as jy voor ‘n kaggelvuurtjie kon opkrul, maar behoede jou as jy moes oor een van die passe ry om in ‘n ander dorp te kom.
Dan is in die mis ry ‘n gevaarlike speletjie. So van gevaar gepraat, dis verstommend hoe baie mense nie hul motors se ligte aansit as die mis so van die rivier se kant af opstoot nie.
Ja, jy sien nie beter as dit mistig is en jy het die motor se hoofligte aan nie, maar ander bestuurders kan jou ten minste dan sien.
Die weerburo sê die mis gaan nou-nou die wyk neem, maar tot dan sit die hoofligte aan.
Dis ‘n koue week, hou maar die ketel op gereedheidsgrondslag vir warm koffie en laat die protte prut met lekker boontjie- of dik groentesop.
