Uit my pen – die week in Vaalweekblad
'n Voorsmakie van wat ek die week in die Vaalweekblad met ons lesers deel.
Sjoe, wat ‘n week! Ek weet dis nou eers Dinsdag, maar joernaliste leef so van sperdatum tot sperdatum.
‘n Nuwe week begin op ‘n Woensdag as die koerant te koop is en eindig op ‘n Dinsdagmiddag as die redakteur die groen lig gee vir die koerant om gedruk te kan word.
Die week van Vaalweekblad tot Vaalweekblad was weer bedrywig.
Landswyd het die meeste ‘n sug van verligting geslaag toe ons maskers vaarwel kon toewens. Die Noord-Kaap het reën gekry en die PUMAS het die Curriebeker gewen.
Ter plaatse (is dit nou nie oulike ouderwetse Afrikaans nie?) het ek weer oral gedraai en gekuier.
Daar was ‘n kuiertjie by Die Tweeling, Liani en Ansia Du Plooy om hul jongste gemeenskapsprojek in wording te besigtig en Sandra Stark gesels met ons oor haar jare se navorsing en werk om gestandardiseerde toetse in Afrikaans daar te stel om disleksie te kan diagnoseer.
In my rubriek, Ek sê maar net, stoei ek met hekke. Haal asem SE3, ek het vrede gemaak met julle toegangsbeheer, hierdie keer was dit sommer gewone erfhekke wat nie hul samewerking wou gee nie.
Maak ook nader kennis met Pierre Wheeler, fotograaf, skrywer, digter en gemeenskapswerker van Meyerton.
Dis alles in die week se Vaalweekblad. Daar is nog baie ander stories ook, maar ek mag nie uitpraat nie.
Onthou om die blokraai in te vul, daar is lekker pryse op die spel. Julle het dit nie by my gehoor nie, maar 3 Af se antwoord is oogkundige.
Bly warm, ry veilig en geniet die week met ‘n koerant in die hand.
