Tweeling op ‘n missie om harte te verbly
Liani en Ansia Du Plooy is altyd doenig met die een of ander gemeenskapsprojek. Hulle het harte van goud wat net aanhou gee.
VANDERBIJLPARK. – Ansia en Liani du Plooy is bekend as die tweeling wat altyd besig is met die een of ander gemeenskapsprojek.
Wanneer hul nie voorskote vir ‘n kleuterskool maak nie, maak hul borslappies vir Eurekaskool.
Op die oomblik is hul hard aan die werk om spesiale sakkies te maak vir hul ouetehuisprojek.
As alles volgens plan verloop, sal die sakkies gelaai met lekkernye en ander verrassings, net reg wees om in die lente te gaan uitdeel.
Onlangs het hul uitgehelp by NG Vaalrivier se basaar waar hul fluks agter die pannekoektafel doenig was.
Kans gesien vir die bak het hulle nou nie, maar wel vir die suiker gooi en oprol.
Albei hou van harde werk en geniet dit om aan die gemeenskap terug te gee. Veral ouer mense lê hul na aan die hart.
Wat hul doen, doen hul uit die hart en met baie liefde.
Help graag en kuier lekker. Dalk juis omdat die pad nie altyd vir hulle so maklik is nie.
Ansia kry epileptiese aanvalle, Liani sukkel met rumatiek en asma. Gesondheidsprobleme wat hul al vir 46 jaar met hul saamdra vandat hul destyds vyf weke te vroeg gebore is.
Die afgelope twee jaar was een of albei kort-kort siek, maar op die oomblik gaan dit baie beter.
Toe hul onlangs sakke afval lap gekry het, het hul dadelik aan die werk gespring om die sakkies te begin maak.
Oor presies wat alles in die sakkies gaan wees, het hul nog nie finaal besluit nie.
Lekkergoed is ‘n vereiste en dalk seep of ‘n waslap. Hulle dink daar sal beslis kolwyntjies gebak moet word vir die groot uitdeel okkasie.
Maar dis nou alles eers in September vir hul spesiale lente projek. Tot dan is hul nog fluks aan die sny, stik en stryk van die 100 sakkies wat moet klaar.

