Dante Chan Christensentrum vier sy 10de jaar
‘n Groot droom van kapt. Wilken is om genoeg fondse in te samel om ‘n gebou te kan koop om die bestaande dienste te verbeter en uit te brei, en ook om ‘n deurgangshuis te open waar elke behoeftige en hawelose mens saans ‘n warm bad kan neem en in ‘n warm bed kan slaap.
VANDERBIJLPARK. – Die Dante Chan Christensentrum in Gillstraat, CW2, vier op 1 Julie sy 10de verjaardag.
Die sentrum in Westcliff House in die Bequerrel-winkelsentrum is in 2012 deur kaptein Alwyn Wilken, verbonde aan die SAPD in Vanderbijlpark, geopen nadat hy die groot nood onder die behoeftige en hawelose gemeenskap in en om die Bequerrel-gebied raakgesien het.
Die sentrum het as ‘n klein winkeltjie begin en het intussen tot ‘n gevestigte gemeenskapsorganisasie gegroei.
Verskeie dienste word van Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 12:00 hier gelewer, wat insluit dat bykans 200 mense daagliks ‘n bord kos ontvang en die klerebank verskaf gratis klere aan die behoeftiges. Die sentrum beskik ook oor ‘n volledige kerk en dienste word elke Sondag om 09:30 aangebied.
“Die afgelope dekade was gekenmerk deur groot hoogtepunte en vreugde, maar ook aan talle laagtepunte met groot hartseer en uitdagings. Nie teenstaande dié feit wil ek elke individu, organisasie en sakeonderneming bedank vir hul ondersteuning en hulp wat bygedra het dat ons ons deure kon oophou,” sê Kapt. Wilken.
“Die algemene agteruitgaan van die ekonomie en die Covid-19 pandemie het bygedra tot die grootskaalse armoede en hongersnood in ons dorp. Mense wat voorheen gewerk het, is werkloos en sonder blyplek. Baie eindig op straat. In dié tyd, meer as ooit tevore, word die sentrum daagliks oorval met arm, hawelose mense, in so ‘n mate dat ons sukkel om aan al die behoeftes te voldoen. Die sentrum wat as ‘n nie-winsgewende maatskappy geregistreer is, is totaal en al afhanklik van donasies om sy deure oop te hou. Behalwe vir die finansiële uitdagings het die sentrum ook ‘n groot behoefte aan nie-bederfbare voedsel, groente, goeie gebruikte klere, skoonmaakmiddels, badkamerbenodigdhede en komberse,” sê hy.
In die afgelope 10 jaar het die sentrum so gegroei dat die huidige perseel wat gehuur word, nie meer voldoende is om in al die behoeftes te voorsien nie.
‘n Groot droom van kapt. Wilken is om genoeg fondse in te samel om ‘n gebou te kan koop om die bestaande dienste te verbeter en uit te brei, en ook om ‘n deurgangshuis te open waar elke behoeftige en hawelose mens saans ‘n warm bad kan neem en in ‘n warm bed kan slaap.
Die publiek word genooi om die sentrum te besoek en te kom kyk na die dienste wat hier aangebied word.
Kontak kapt. Wilken by 074 171 6503 vir meer besonderhede.
* Donasies sal baie waardeer word en kan direk by die sentrum afgelewer word. Geldelike skenkings kan inbetaal word aan: Dante Chan Sentrum, Standard Bank, Rekeningnommer 10148677965, Takkode 7654.


****************************************************************************

