Kwadrupleeg sterf in hospitaal, huldeblyke stroom in
’n Kwadrupleeg wat gesterf het nadat sy ventilator tydens ’n onbeplande kragonderbreking gestop het sal onthou word as iemand met veggees wat ’n groot inspirasie was vir ander.
VEREENIGING. – “Hy was voor sy ongeluk ’n kranige sportman. Dit is egter na sy ongeluk wat mens sy veggees en deursettingsvermoë werklik kon sien.”
Dit is hoe Gerda Fourie, ‘n oud-skoolmaat, vir Willie Muntingh (44) beskryf. Sy het op sosiale media reageer na aanleiding van die tragiese nuus.
Willie, ‘n kwadrupleeg, het Saterdagaand (25 Junie 2022) in ’n koma gegaan nadat sy ventilator tydens ’n onbeplande kragonderbreking in Peacehaven gestop het.
Sondag (26 Junie 2022) is hy breindood verklaar en Dinsdagaand (28 Junie 2022) kort voor ses het hy in die Mediclinic Vereeniging-hospitaal gesterf.

Tersia Venter, ‘n woordvoerder vir die familie sê Willie se hart was die laaste orgaan om te gaan.
Willie is sedert sy tienerjare verlam gelaat ná ’n fratsongeluk in die vroeë 1990’s, toe hy kop eerste teen die bodem van die swembad by Hoërskool Vereeniging (nou Vereeniging Gimnasium) vasgeduik het.
Die ongeluk het hom verlam gelaat en Willie was vir ’n groot gedeelte van sy lewe van ’n ventilator afhanklik om asem te haal.
Baie mens sal vir Willie onthou as ’n mens wat ’n inspirasie was vir ander en iemand wat ten spyte van die terugslae van die lewe deur harde werk en determinasie geseëvier het.
“Willie was enig in sy soort. Hy het homself nooit verwyt of kwaad geraak vir homself of homself bejammer nie. Nee, hy was ’n inspirasie vir so baie mense. Hy het ten spyte van wat met hom gebeur het homself verbeter, sy matriek geslaag met vyf onderskeidings en vorentoe gegaan en homself verbeter. Hy was voorwaar iemand om op trots te wees,” skryf Corrie Crafford in ’n roerende huldeblyk op Facebook.
Vaalweekblad verstaan die familie blameer die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit vir Willie se dood.

Die buurt van Peacehaven gaan al vir jare gereeld onder kragonderbrekings gebuk en dit is juis as gevolg van een van hierdie kragonderbrekings wat Willie se ventilator gaan staan het.
Tersia het in ’n televisie onderhoud gesê sy het Saterdagaand omstreeks 21:00 ’n histeriese stemboodskap (“voicenote”) van een van Lettie se bure ontvang waarin sy gevra is om ’n ambulans vir Willie te reël.
Intussen het Lettie vir Willie met kardiopulmonêre resussitasie op Willie probeer toepas.
’n Ambulans was binne ongeveer 20 minute op die toneel en nooddienswerkers het vir Willie gestabiliseer voordat hulle hom na Mediclinic Vereeniging geneem het.
Sy brein was baie geswel en hy is later breindood verklaar.
Dinsdag het hy in die hospitaal gesterf.
Willie laat sy ma, Lettie, en sy verloofde Petro van Zyl agter.
Nie die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit of die burgemeester, Sipho Radebe, het nog amptelik op die voorval gereageer nie.


