Man op wildplaas deur buffel doodgegaffel
Die polisie is besig met 'n geregtelike doodsondersoek nadat 'n 50-jarige man deur 'n buffel op 'n wildplaas naby Lephalale doodgegaffel is.
Die voorval het glo Donderdag (30 Junie 2022) ongeveer 08:00 op die plaas Oxford naby Steenbokpan buite Lephalale gebeur.
The Citizen berig die oorledene, 50-jarige Benjamin de Bruyn, was glo op die plaas saam met die eienaar en ‘n fotograaf toe die buffel hom bestorm en gegaffel het.
De Bruyn het blykbaar op die toneel aan beserings beswyk.
“Die eienaar van die plaas het hom (die oorledene) probeer beskerm deur skote op die buffel af te vuur, maar die buffel het hom (die eienaar) ook aangeval.
“Hy (die eienaar) het ontsnap deur in ‘n boom te klim.
“Die fotograaf het ‘n veilige afstand gehandhaaf,” lees ‘n gedeelte van die verklaring wat deur, lt. kol. Mamphaswa Seabi, ‘n woordvoerder vir die polisie uitgereik is.
Nooddienste, sowel as die polisie is ontbied en De Bruyn is op die toneel dood verklaar.
Die eienaar van die wildplaas is na ‘n hospitaal geneem vir behandeling.
Die dier is na die voorval glo van kant gemaak.
Die polisie het ‘n beroep op boere en toeriste gedoen om veiligheid aan die dag te lê wanneer hulle naby wilde diere is.
