LifestyleLocal newsNewsSport

Vaal neem afskeid van ‘n groot gees in SA sport

Mnr. Du Plessis was in ‘n stadium president van die Suid-Afrikaanse Olimpiese Komitee en het groot insette gelewer om sportsanksies teen Suid-Afrika opgehef te kry.

VANDERBIJLPARK. – Familie, vriende en die sportgemeenskap van die Vaaldriehoek het Vrydag, 24 Junie, tydens ‘n troosdiens afskeid geneem van mnr. Johan du Plessis, ‘n oudonderwyser wat veral diep spore in Suid-Afrika se stoei-administrasie getrap het.

Mnr. Du Plessis het verlede week in ‘n hospitaal in Pretoria beswyk nadat hy sowat twee maande lank weens ‘n infeksie siek was.

Wyle mnr. Du Plessis was in sy werksjare ‘n bekende geskiedenisonderwyser aan die Hoërskool Vanderbijlpark, maar word veral onthou vir sy talle bydraes op sportgebied.

Oom Doep, soos hy onder baie inwoners bekend was, is 87 jaar gelede op ‘n plaas langs die Vaalrivier naby die Barrage gebore en het aan die Hoërskool Vereeniging gematrikuleer voordat hy hom as onderwyser aan die Potchefstroomse Onderwyskollege bekwaam het. Hy het later ook grade aan die destydse PU vir CHO verwerf.

Hy het reeds as student by amateurstoei en later by die administrasie van die sportsoort betrokke geraak. Hy was onder andere ‘n oudpresident van die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie en erepresident van die Yskor-stoeiklub. Hy was in ‘n stadium ook president van die Suid-Afrikaanse Olimpiese Komitee en het groot insette gelewer om die destydse sportsanksies teen Suid-Afrika opgehef te kry.

“Hy was ‘n mense-mens met ‘n ontsettend goeie luistervermoë. Hy kon ook konfliksituasies in die administrasie van sport baie goed hanteer,” sê sy seun, Riaan.

In sy later jare het Oom Doep hom besig gehou met sy turksvy-aanplantings en verskeie variëteite van oraloor bekom om op sy plaas naby die Barrage aan te plant. “Hy was dwarsdeur sy lewe baie gesteld op sy voorkoms en was altyd netjies en skoongeskeer,” onthou Riaan.

Buiten Riaan word Oom Doep deur twee dogters, sewe kleindogters en vier agterkleinkinders oorleef. Oom Doep se vrou, Corrie, is ‘n paar jaar gelede oorlede en hul ander seun, Kobus du Plessis, ‘n Springbok-stoeier, het in 1983 op 24-jarige ouderdom in ‘n motorongeluk gesterf.

Wyle mnr. Du Plessis se troosdiens is Vrydag by die NG Gemeente Vaalrivier in Vanderbijlpark gehou.

 

Wyle mnr. Johan (Doep) du Plessis.

 

**********************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button