LifestyleLocal newsNews

Bekende bouaannemer verdrink tydens hengeluitstappie

Tyd maak wonde beter en hoewel daar altyd ‘n litteken in hul gemoed sal bly, het die drie kinders uiteindelik hul musiek hervat.

Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Vaalweekblad plaas vanjaar gereeld fokusblaaie waar ons vertel van die mense wat die stad help vorm het, en gebeure wat ons na baie jare steeds onthou. Hierdie is een daarvan:

“Hoe sou ons gesinslede se lewens verloop het as ons pa nie daardie dag in Mei 1977 gaan hengel het nie?”

Dit is ‘n vraag waaroor wyle mnr. Piet van Staden se kinders na 45 jaar steeds tob.

Piet van Staden was ‘n bekende bouaannemer van Vereeniging wat ook by verskeie ontwikkelings in ander Vaaldriehoekse dorpe en buite die gebied betrokke was.

Baie sal hom onthou as ‘n talentvolle konsertinaspeler wat gereeld saam met sy orkes, “Die 5 Staatmakers” by die ou Vaaldam-hotel opgetree het. Die bekende Ollie Viljoen het aan die begin van sy musiekloopbaan ook gereeld saam opgetree.

“Pa was ‘n familiemens en ons gesin was alles in sy lewe. Hy was die soort mens wat altyd almal gehelp het waar hy kon,” onthou sy seun, Hennie.

In Mei 1977 was Piet op ‘n jaguitstappie, maar het spesiaal ‘n paar dae voor sy 60ste verjaardag teruggekom Vereeniging toe om ‘n verjaardagpartytjie vir sy gesin en vriende aan te bied. Van die gaste het hom genooi om die Sondag saam met hulle te gaan visvang. Hoewel Piet aanvanklik liewer wou tuisbly, is hy uiteindelik oorreed om saam te gaan.

Hy was die Sondagmiddag omstreeks 13:00 met ‘n kano op die water naby Oranjeville toe dit sowat 150 meter van die oewer af omslaan. Sy swaar rubberstewels het vermoedelik gou vol water geraak en hy het onder die water verdwyn.

Sy hengelvriend, Daan Loots, het vergeefs probeer om Piet in die water te vind, maar het besef hy moes vinnig hulp inroep. Hy het sowat 3 km deur mielielande na die naaste plaashuis gehardloop maar daar was niemand tuis nie.

Dit was eers sowat vier ure later dat Piet se liggaam in die water gevind is en oewer toe gebring kon word. Vir sy vrou, Emma, hul dogter (ook Emma) en tweelingseuns, Hennie en Neels, was die nuus verpletterend.

Die huis wat altyd gebruis het met musiek, het stil geword en die verlange na Pa Piet was oorweldigend. Maar tyd maak wonde beter en hoewel daar altyd ‘n litteken in hul gemoed sal bly, het die drie kinders uiteindelik hul musiek hervat. Al drie was as kinders gereeld saam by funksies waar hul pa opgetree het, en dogter Emma het soms selfs saam met die orkes gesing. Die driestuks het duidelik ‘n musiektalent geërf en wanneer Hennie sy kitaar optel, Neels agter die klawerbord inskuif en Emma haar plek agter die mikrofoon inneem, word daar vandag weer lekker musiek gemaak.

Daar is nou al vyf kleinkinders wat almal eers na Piet se dood gebore is, maar hul ouers vertel hulle graag met trots van hul flukse oupa Piet met die warm hart en lewendige ritme in sy are.

“Ons as gesin sal ons pa altyd onthou vir sy lag en humor, en ons wonder nou nog hoe anders dinge vir ons sou wees as hy vandag nog gelewe het,” sê Hennie.

 

Wyle mnr. Piet van Staden wat in Mei 1977, ‘n dag voor sy 60ste verjaardag, verdrink het.

 

Piet van Staden se kinders, Hennie op kitaar, Emma agter die mikrofoon en Neels op klawerbord, maak vandag steeds lewendige musiek soos wat hulle by hul pa geleer het. Is die agtergrond is ‘n kleinneef van die drie wat graag saam met hulle optree.

 

Die Van Standen-broers, Neels en Hennie.

******************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button