Baba likkewaan vrek kort ná redding
'n Baba waterlikkewaan (Varanus niloticus) wat Dinsdag by 'n huis in C.E. 2 in Vanderbijlpark gered is het oornag gevrek.
VANDERBIJLPARK. – Vaughan Veale van die Suid-Afrikaanse Wildlewe Rehabilitasiesentrum sê hulle is Dinsdag (5 Julie 2022) gekontak nadat ‘n kat die klein likkewaan by ‘n huis in Bogartstraat in C.E. 2 in Vanderbijlpark ingedra het.
Die likkewaan is onmiddelik in water gesit en na die rehabilitasiesentrum geneem, maar die reptiel is ongelukkig gedurende die nag dood.
Veale sê daar was geen bytmerke op die reptiel se lyf nie.
Dit kan dalk wees dat die dier inwendige beserings opgedoen het of dalk is die likkewaan weens stres en trauma dood.
Die gebied waar die likkewaan gevind is, is nie in die onmiddelike omgewing van ‘n veld of rivier nie, wat ook vreemd is.
Likkewane is ‘n bedreigde spesie en dit is onwettig om hulle as troeteldiere aan te hou.


