Stephen – die man wat ons hoop gee
Ons kuier by die man met die diep stem wat gereeld op Facebook meer vertel van hoe Bring Hoop Vaaldriehoek die lewe vir almal makliker maak. Stephen Venter het ‘n hart vir sy taal, sy land en die gemeenskap.
VAALPARK. – Stephen Venter, die man wat Bring Hoop na die Vaaldriehoek gebring het, is ‘n gebore en getoë Sasolburger.
Hy onthou nog sy sorgvrye kinderdae waar maats mekaar langs die pad gekry het en almal op hul fietse na die openbare swembad gery het.
“Die groen stroke in die dorp was ons eie highway,” lag hy. Stephen het in 2003 matriek geslaag en daarna as instrumentasie ambagsman by SASOL gekwalifiseer.
Daar het hy vir jare gewerk alvorens hy ‘n pos by ‘n privaat maatskappy bekom het. Nou se dae werksaam hy as ontwikkelingsbestuurder van ‘n Duitse instrumentasie maatskappy en werk hy gereeld in ander Afrika lande.
“Min mense besef ek het eintlik ‘n voltydse werk,” beduie hy, “almal dink ek is heeltyd doenig om slaggate reg te maak of kos aan te dra, maar dit doen ek alles na-ure.”
Hy erken hy sou nie alles kon behartig sonder die ondersteuning van sy vrou, Anita nie. “Sy is die een wat alles aanmekaar hou,” vertel hy trots.

Die egpaar is al 12 jaar getroud en het twee seuns, Tyler en Nathan.
Die twee kannetjies is in Lumiére op skool en wil in pa se voetspore volg. “Hulle vertel vir almal by die skool hulle pa maak die slaggate reg. Hulle wil ook die hele tyd help, veral as ek bale vir die boere gaan aflaai,” en pa se borskas swel so ‘n bietjie meer.
Stephen sê hy het nooit gedink hy sou so betrokke raak nie. “In 2020 het my vriende my vertel ek is die ideale een om Swart Maandag te organiseer. Dit was op die dag wat ons saamgetrek het teen plaasmoorde.
“Ek was verbaas toe daar so baie mense opdaag, ek het gedog net my vriende gaan daar wees omdat hulle my jammer kry,” lag hy lekker.

Dan raak hy weer ernstig. “Jy weet, ek het daardie dag besef ons mense het nodig om te weet hulle is nie alleen nie.”
Na Swart Maandag het alles vinnig begin gebeur. Dit was in die tyd van die Covid-pandemie en hy was huisgebonde.
Stilsit kan hy nie en toe ooms en tannies hom in die winkel begin voorkeer om te hoor wat is volgende, het hy ingespring en ‘n fondsinsameling vir Bring Hoop Suid-Afrika gereël.
Van toe af is daar geen keer aan hom nie en vandag staan Bring Hoop Vaaldriehoek sterk. Nie net help hulle uit op plase nie, maar ook in dorpsgebiede en het hulle ook ‘n lys van families wat van kospakkies voorsien word.
“Dis vir my lekker om vir ander hoop te gee,” vertel hy.

Hy onthou een aand het daar ‘n vreeslike storm losgebars. Hy het gehoor daar het ‘n boom by die Baddriftbrug omgeval.
Dit was donker en nat, maar hy en ‘n paar vriende het daardie boom gaan opsny en uit die pad gekry.
‘n Ruk later het ‘n vrou hom in ‘n winkel voorgekeer om dankie te sê. Sy was die aand op pad om haar man by die gholfbaan te gaan oplaai en sou die boom in die pad te laat gesien het.
Sy is daar verby net toe hulle die boomstukke uit die pad verwyder het.
Stephen voel ook sterk daaroor dat mense mekaar moet ondersteun. “Ek maak ‘n punt daarvan om die besighede te ondersteun wat Bring Hoop ondersteun.
“Ek onthou toe Oom Klippies sy nuwe car wash oopgemaak het, toe trek ek almal bymekaar en sê dis die besigheid se baby shower, vandag gaan was ons almal ons motors daar.”
Stephen is altyd aan die gang en doenig met die een of ander projek. Wanneer hy wel ‘n slag asem skep, hou hy daarvan om te braai.
Vakansies staan sy kop Bosveld toe en as hy kon het hy vir hom ‘n plaas in die Vrystaat gekry.
Dis vir hom lekker as die mense vrolik waai en dankie sê Saterdae as hy help om slaggate reg te maak, maar eintlik doen hy dit met liefde. Soos hyself sê: “Ek is klaar geseënd en dis hoekom ek teruggee.”
