Landdros sterf grusaam in brandende huis
Haar laaste ontstellende woorde oor die gemeenskapsradio was: “Help, my huis is aan die brand!” Daarna het dit stil geword.

Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Vaalweekblad plaas vanjaar gereeld fokusblaaie waar ons vertel van die mense wat die stad help vorm het, en gebeure wat ons na baie jare steeds onthou. Hierdie is een daarvan:
Vereeniging het deur die jare al tye van groot roem en vreugde beleef, maar daar was ook voorvalle van onbeskryflike tragedies wat die nasionale nuus gehaal het.
Een daarvan was toe ‘n vooraanstaande lid van die stad se regsgemeenskap, landdros Annatjie Pretorius (58), die nag van 9 September 2013 deur vlamme in haar huis vasgekeer is en grusaam doodgebrand het.
Haar laaste ontstellende woorde oor die gemeenskapsradio was: “Help, my huis is aan die brand!” Daarna het dit stil geword.
‘n Buurvrou, me. Tertia Pieterse wat destyds oorkant haar gebly het, het aan Vaalweekblad vertel dat sy die aand tot so 23:00 televisie gekyk het. Haar man, Morné, kon nie slaap nie en het teen middernag ‘n geraas buite gehoor. Hy het uitgegaan en gesien Annatjie se hoofslaapkamer was aan die brand.
Omdat sy so veiligheidsbewus was, was daar swaar diefwering voor haar vensters en deure. Sy was in haar brandende huis vasgekeer.
Tertia het onmiddellik die brandweer en polisie ontbied, maar het met skok besef dat die vlamme in ‘n paar oomblikke baie wyer versprei het. Die Midvaal-brandweer was binne 10 minute op die toneel, maar het aanvanklik gesukkel om toegang te kry weens die swaar diefwering en veiligheidshekke. Na 20 minute was die brand geblus en die brandweerspan kon ingaan, waar hulle op ‘n hartverskeurende toneel afgekom het: Annatjie se verbrande liggaam het langs haar bed in die hoofslaapkamer gelê.
Kollegas en vriende van Annatjie het die volgende dag by die ruïne van haar huis opgedaag, terwyl die brandweer en polisie nog besig was met ‘n ondersoek om die oorsaak van die brand te bepaal. Marieke le Roux, senior landdros van Vereeniging, het aan Vaalweekblad gesê dat sy en Annatjie in 1984 saam as aanklaers in Vanderbijlpark gewerk het.
Annatjie was daarna onder andere ‘n landdros in Mosselbaai en Nelspruit voordat sy haar loopbaan in 1992 by die Vereenigingse strafhof voortgesit het. “Sy was ‘n uitstekende landdros en het baie hard gewerk.
Haar werk was altyd netjies en presies,” het landdros Le Roux gesê. Annatjie was geskei en het nie kinders gehad nie. Volgens haar vriende en kollegas was sy ‘n sagte mens en baie lief vir diere.
Daar is agterna vasgestel dat die brand deur ‘n kortsluiting veroorsaak is.


***************************************************************
