Local newsNewsNews

Maak jagters groot wat eties jag

Die jagseisoen is oop en daar is baie mense wat oningelig is omtrent volhoubare jag en die groot rol wat dit speel in natuurbewaring.

Jan de Man, ervare jagter, deel hier sy siening met ons:

Jag is vir my ‘n manier van lewe; ’n lewensuitkyk. Jag is deel van wie ek is. Jag is bewaring en ’n baie belangrike bewaringshulpmiddel.

Jagter, tentmaker en vriend van kinders, Jan de Man voor een van die wildsplase waar daar gejag word.

Ek weet dit en jy wat hier lees, mag dit heel moontlik weet en die res van ons medejagters weet dit hopelik ook. Dan is daar ’n goeie kans dat ons kinders dit ook sal weet, want ons leer en wys dit mos vir hulle; ons leef dit as te ware vir hulle voor.

Maar ’n baie groter deel van ons land en die wêreld se bevolking weet dit nie. Die oorgrote meerderheid weet net te min van jag af om regtig te verstaan of ’n opinie te hê. Dan sal hulle kinders mos ook nie weet en verstaan nie.

Wie gaan hulle leer en wys, as ek en jy dit nie doen nie? As ons dit nie doen nie, gaan die persentasie mense wat jag – of ten minste verstaan waarom ander jag – wêreldwyd net al hoe minder en minder word.

Onthou asseblief net altyd dat almal nie hoef te jag nie. As mense om ons net jag en waarom ons jag verstaan en, soos die jongklomp sê, “okay” is met jag, is dit al genoeg.

Oor die afgelope klompie jare sien ek ’n groeiende tendens wat my bly en positief maak: Oral duik nuwe jagters op.

Jagters neem meer en meer nuwelingjagters saam op jagtogte en ek sien ook al hoe meer klem op families, jagters wat hulle vrouens en kinders laat deel in jag en die jagervaring.

Wat meer is, volgens statistiek wend al hoe meer en meer mense hulle tot die natuur en buitelewe-aktiwiteite. Dis alles stappe in die regte rigting, ook vir volgehoue jag en bewaring, of volhoubare benutting, soos die slim ouens dit noem.

Wat kan ek en jy vandag doen om hierdie tendens aan te help?

Eerstens,  moet ons wat die geleenthede het, ons eie kinders blootstel; nie net aan die fisiese jag self nie, maar aan die rede(s) vir ons jag, aan etiese jag en gesonde jagpraktyke, aan die hele omvang van jag – skietkuns, jagkuns, slag en vleisverwerking, ens.

Ons as jagtersgesinne, -families en –gemeenskappe moet verantwoordelikheid neem vir begeleiding van ons “eie” kinders tot volwaardige volwasse jagters of ten minste jaggeorienteerde of jag-positiefgesinde volwassenes.

Maar, wat van al die ander kinders “daar buite”? Die waarvan ek so flussies gepraat het, die wie se ouers hulle nie self gaan leer en begelei nie.

Ons sal daar ook moet help en ek dink ons sal mekaar moet help om nog baie meer uit die kassie uit te dink oor maniere om dit te doen; om die inligting, maar ook die hele “feel” van alles waaroor jag gaan, ook aan hulle oor te dra: Van, as gesinne met ander gesinne deel, hulle saamnooi en blootstel, tot literatuur en die visuele media gebruik, alles en nog wat…

Elke kans wat ek en jy kry om ‘n saadjie in die regte rigting te plant, sal ons moet benut. Kinders is van nature ondersoekend en leergierig.

Skep geleenthede en gebruik dan hierdie geleenthede, maak hulle lief vir die natuur, stel hulle bloot, beantwoord hulle vrae, wys die verantwoordelikheid van die mens as “bestuurder” van die natuur en natuurlike hulpbronne uit.

Begin heel prakties dink oor die hele blootstelling-ding, van kaalvoet in die modder mag loop en mors as jy een jaar oud is tot kleilatgooi, bokdrolspoeg, kamp, wildkyk en baie meer. Moenie op hierdie kanse uitmis nie.

Ek, saam met Wildland tydskrif, en vele wat soos ons dink, gaan aanhou fokus op die bevordering van kinders en gesinne saam in die jagveld. Ons gaan bly aanmoedig en in die jagtydskrif en op sosiale media en oral waar ons kan, baie stories deel.

Ons gaan ook steeds en meer daarop fokus om kinders wat nie geleenthede tot blootstelling aan jag, en alles rondom jag, het nie, dieselfde geleenthede te bied. Ons wil voortgaan met ons Kinderjagprojek, wat nou al ’n hele paar jaar aankom.

Maar ons het jou hulp ook nodig. Ons sou so graag wou hê dat hierdie ding oral in ons land sal gebeur, dat veral kinders met minder voorregte en geleenthede wat ook wil jag, wel die kans sal kan kry.

Dit kos geld. Dit vra tyd en opoffering. Ons het reg deur ons land, en oral in die wereld, jagters, jagplase en verskeie ander borge nodig om dit te laat gebeur.

Dankie vir almal wat reeds hiermee besig is, sommer op hulle eie en informeel. Daar is egter nog baie plek vir hulp. As jy nie weet waar en hoe om te begin nie, sal ons kan help. Kom ons maak as jagters saam ’n verskil!

Deel ook asb jou jagstories met ons en skree asb as ons iewers kan help. Ons deel graag wat ons al langs die pad geleer het en leer ook graag verder saam.

Gesels met my by jandemantours@gmail.com of skakel my by 0827842350

Mooi loop!

Jan de Man

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button