Local newsNewsNewsSportSport

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Winter tyd is rugby tyd en dis lekker om weer rugby te kan kyk.

Dis winter en dis lekker om weer te kan rugby kyk. Ja, ek weet daar was verskeie ligas en dinge aan die gang, maar ek het dit nie gesien nie.

Lankal betaal-TV opgegee. Het nou ons eie DVDs op herhaling, ten minste is dit rolprente en reekse waarvan ek (oorspronklik) gehou het.

Allegeval, so kom ek nie meer by rugby kyk uit nie. Saterdag land ek by ‘n vriend wat wel nog die nodige sportkanale het en ons sit aan vir die eerste Springbok rugbytoets in drie jaar.

Loftus is van hoek tot kant gepak, die Rooi Drake van Wallis is vuurwarm en die Springbokke lyk lus vir die ding.

Gaats, ek dog my oë bedrieg my, want ek het wraggies net oë geknip toe is die Springbokke 3 – 18 agter en dis halftyd.

Die losskakel en kaptein van Wallis skop ons stukkend en ons eie losskakel skop teen die regop-paal en dwarslat vas.

Dalk moes hy bonuspunte daarvoor gekry het, ek dink nie dis ‘n maklike ding om te doen nie!

Dankie tog vir onse bom-squad in die tweede helfte. ‘n Mens voel sommer hoe jy beter kan asemhaal met ‘n Marx, Kwagga en Willie le Roux op die veld.

Basta met almal wat sê Willie kan nie meer nie. Daar is tye wat ervaring meer tel en daai man het koelkop gebly en die troepe bymekaar gehou toe die kaptein van die veld is.

Vaaldriehoekers kon breed glimlag na die wedstryd. Nie net het die Springbokke gewen nie, maar een van die jongmanne wat in die tweede helfte plek ingeneem het, is mos van die kant van die Vaalrivier.

Elrigh Louw was onderskeidelik in Laerskool Kollegepark en Hoërskool Transvalia. Veels geluk! Ons hoop jy kry volgende keer jou drie!

So van rugby gepraat. Verlede week word Ma een oggend douvoordag deur my oom en sy vrou opgelaai.

Eerste van links, Viaan Bruinette, enigste skeidsregter in die familie. Foto: Facebook

Hulle gaan Rhino Week Rugby kyk by die VUT Isak Steyl Stadion. Ma het 54 jaar laas rugby gekyk, maar my oom se kleinseun is een van die skeidsregters en sy voel hy kort ondersteuning.

“Arme skeidsregters word mos altyd uitgekryt. Ek onthou hoe jy en jou pa tekere kon gaan. Veral die Franse skeidsregters was mos altyd teen julle,” haal sy herinneringe aan wat ek liewer wil vergeet.

‘n Franse skeidsregter is elke Springbokondersteuner se nagmerrie. Maar ek gaan nie uitbrei nie, hierdie is ‘n gesinskoerant…

So spandeer Ma toe ‘n oggend langs die rugbyveld saam met die familie.

Met die terugkomslag verklaar sy plegtig: “Rugby is nie meer wat dit was nie. Die reëls het verander. Hulle mag nou optel in die lynstane, maar hulle mag net nie ‘n man in die lug duik nie.”

Sy was ook in haar skik met onse Viaan Bruinette. “Hy het nie die wedstryd doodgeblaas nie en hy het sy koel gehou toe die een span se kaptein astrant raak,” vertel Ma trots.

Ja, trots op hom is ons beslis. Sy ouma vertel hoeka hoe hy al as klein seuntjie fluitjie in die hand denkbeeldige rugbyspanne tot orde geroep het.

Die Leeus o.17 se onderkaptein, Machiel Burger. Foto: Henryett Burger

Ek hoor daar is die week weer Rhino Week Rugby aan die gang. Die keer die o.17 provinsiale spanne.

Miskien moet ek my lyf sportjoernalis hou, want my niggie se seun, Machiel Burger draf vir die jonge Leeuwelpies uit en hy mag maar rugby speel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button