Twee Eureka leerders nou trotse jagters
Jan de Man het twee van Eurekaskool se leerders gehelp om te gaan blesbokke jag.
VEREENIGING. – Die jagseisoen is oop en oral word daar bok geskiet vir ekstra vleis vir die koue wintermaande.
Om te gaan jag is nie vir almal beskore nie, maar onlangs het Serame Diatole en Adriaan Oosthuizen van die Eurekaskool die geleentheid van ‘n leeftyd gehad.
Die twee seuns was baie opgewonde om vroegdag saam met Adriaan se pa, Serame se oom en een van die skool se onderwysers die pad na Francois en Karen Maartens se plaas sowat 100 kilometer vanaf die Vaaldriehoek af aan te durf.

Dr. Jan de Man, predikant en jagter, het die twee jongmanne touwys gemaak oor die skiet van die bokke.
Jan, ‘n oud-Namibiër wat al 20 jaar in die Vaal woon, sê hy neem al vir jare kinders wat nie andersins die geleentheid sou kry nie, om hul eerste bokke te gaan plattrek.
Hierdie keer was dit die eerste keer wat kinders in rolstoele geneem is. Die twee seuns het ook nie volle krag en beheer in hul hande nie, en daarom het Jan geweet hy sal ook moet help om te skiet.
“Ek het maar so agter hulle gaan stelling inneem, saam met hulle korrel gevat en gehelp om die skoot af te vuur,” verduidelik hy.

Die twee seuns het die uitstappie vreeslik geniet, veral toe hulle na die tyd elkeen so ‘n bietjie bloed op die voorkop gekry het om hul as amptelike jagters in te huldig.
Hulle het ook jagmesse, hemde en ‘n boek oor jag as geskenk gekry. Nadat die bokke afgeslag is, is die vleis aan die twee families geskenk. Die velle en gemonteerde horings sal later volg.
Jan sê hy het oor die jare al omtrent 500 kinders op ekspedisies geneem. Vir hom is dit ‘n belegging in die kinders.
Gewoonlik neem hy seuns en dogters van so tussen 12 en 14 jaar oud wat graag wil jag. Die kinders word voor die tyd eers na ‘n skietbaan geneem waar hul opleiding kry oor alles van vuurwapenveiligheid tot by skootplasing en die verskillende boksoorte.
Daar word groot klem gelê op natuurbewaring en etiese jag. “Mense besef dit nie altyd nie, maar jag is deel van natuurbewaring. Ons leer die kinders van lewe en dood, van volhoubare jag. Hulle kry selfs die geleentheid om te help om die bok af te slag.”
Die Eureka leerders kon nou wel nie al die goed meemaak wat gewoonlik gedoen word nie, maar hulle het self hul blesbokke uitgesoek, het saam met Jan die sneller getrek en toegekyk hoe hul bokke afgeslag word.
Na die tyd is daar saam met die Maartinse gekuier en stories uitgeruil.
Hy het hul borge bedank wat die dag moontlik gemaak het. Daar is die deurlopende borge: Wildman, Mute Silencers, Formalito, KZN Hunters, SSG, Boendoes Hunting & Outdoors, Primos Trigger Stick, Schmidt en Seuns Vleismekka, Pieter de Bruyn Woodcraft, Gideon van der Merwe en verskeie anonieme skenkers. Vir die Eureka jag bedank hy ook vir Francois en Karen Maartins, Charl White en Erwee Buys.
Jan sê hulle is altyd op soek na wildplase in die omgewing waarheen hulle die kinders kan neem en nog borge. Vir meer inligting kan hy by 082 784 2350 of jan@skillspro.co.za gekontak word.
