Bly só veilig tydens beurtkrag
Beurtkrag is ongelukkig hier om te bly vir die afsienbare toekoms. Opportunistiese misdadigers gebruik ongelukkig die situasie tot hul voordeel.
Die Suid-Afrikaanse polisiediens het onlangs die volgende wenke uitgereik om Suid-Afrikaners te help om tydens beurtkrag verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem.
*Wees waaksaam en bewus van jou omgewing wanneer jy tydens beurtkrag by die huis aankom of jou huis verlaat.
*Maak seker jou selfoonbattery is te alle tye vol gelaai.
*Maak seker jy weet hoe om elektroniese hekke of motorhuisdeur met die hand oop en toe te maak sodat jy steeds toegang tot jou eiendom kan kry tydens kragonderbrekings. Maak gebruik van hangslotte om al die hekke te sluit.
*Maak seker dat jy spaarbattery vir jou alarmstelsel en elektriese heining het om ‘n ononderbroke kragtoevoer na jou sekuriteitstelsel te verseker.
*Wees versigtig wanneer jy kerse of gaslampe gebruik om brande te voorkom. Hou dit buite bereik van kinders.
*Indien jy ‘n kragopwekker gebruik, moet dit nooit in ‘n toe area gebruik nie aangesien dit koolstofmonoksied produseer wat dodelik kan wees.
