Local newsNewsNews

Pierre Wheeler is trots Afrikaans en oral betrokke

Ontmoet Pierre Wheeler, fotograaf, skrywer, digter en gemeenskapswerker van Meyerton.

MEYERTON. – Pierre Wheeler het ‘n Afrikanerhart en is trots op sy taal en herkoms. Ken sy geskiedenis.

Hy gesels opgewonde saam oor die keer wat ‘n handjievol Boere die Kakies ore aangesit het tydens die Eerste Vryheidsoorlog.

Nie dat hierdie jongman enigsins in die verlede leef nie. Hy is oopkop vir die land se probleme en het ‘n hart om te help waar hy kan.

Pierre stuit nie om te gaan help om grondgrype aan te spreek of in die middel van die nag die polisie te help skurke jaag nie.

Hy reken hy sou ‘n goeie polisieman gewees het, maar het nooit daarby uitgekom nie.

Een van Pierre se gunstelingfoto’s wat hy al vasgevang het. ‘n Polisiekaptein besig met laatnag se werk.

Die dat hy so ‘n sagte plek vir die polisie het. Op sy sosiale media blaaie is daar gereeld polisie suksesse te bespeur of aangrypende foto’s van polisielede in aksie te sien.

Alhoewel hy tuis is agter ‘n geweerloop, verkies hy om sy vaardighede op die skietbaan te toets.

Wanneer daar gejag word, gryp hy sy kamera. Nie om die natuur deur sy lens te jag nie, maar wel die mense. “Mense en gebeure fassineer my,” vertel hy met ‘n glimlag.

Hy het hoeka altyd ‘n kamera byderhand. Vandat hy sy eerste foon gekry het wat foto’s kon neem, het die fotografiegogga hom gebyt.

Kort voor lank het hy sy eerste mik-en-druk gekoop en met die jare saam opgegradeer in sy kameras en fotografiekuns.

“Ek verkies dit om mense af te neem.” Swart en wit foto’s is sy forté en elkeen van sy foto’s beeld emosie en patos uit.

Sy groot droom is om eendag ‘n foto te neem wat die wêreld van die Afrikaner vasvat. Iets wat die narratief van ons daaglikse bestaan uitbeeld en mense anders kan laat dink.

Pierre (staande) help paramedici by ‘n ongelukstoneel.

Nie net kan Pierre die mooiste foto’s neem nie, hy skryf ook by elkeen ‘n storie of ‘n gedig wat jou hartsnare aangryp en prentjies in jou kop losmaak. ‘n Gawe waaroor min mense beskik.

Wanneer hy nie besig is om in die gemeenskap uit te help deur kospakkies aan te ry, of te help om onluste tot bedaring te bring nie, is hy voltyds in diens van een van die politieke partye as mediabeampte.

Vir Meyerton en die dorp se mense het hy ‘n besonderse sagte plek. “Hier is nog ‘n regte dorpsgevoel en hier is nie verkeer nie. Selfs Vanderbijlpark het te veel verkeer,” sug hy.

Pierre Wheeler (in die middel) saam met Stanley Cierenberg (links) en Kobus Hoffman. Foto’s: Verskaf

Sy werk neem hom gereeld Pretoria toe en onlangs was hy weer in die mooie Bosveld. “My huis bly my lekkerste plek,” lag hy. Dié dat die grendelstaat hom eintlik goed gepas het. “Ek het lekker van die huis af gewerk.”

Pierre is in Kemptonpark gebore en was daar op skool tot in graad 7. Daarna het hy saam met sy pa in Newcastle gaan bly en daar het hy ook gematrikuleer.

Sy pad het met die Vaaldriehoek gekruis toe hy etlike jare gelede by sy suster in Vereeniging tuisgegaan het nadat hy werk in die suide van Johannesburg gekry het.

Nou is hy en sy vrou gesoute Meyertonners wat die dorp nie maklik sal verruil nie.

Naas skryf, fotografie en skyfskiet is hy gek na koffie. Ordentlike koffie, dié dat hy sy eie koffiemasjien saamvat as hy saam met die manne gaan jag.

“Ek is fanaties oor koffie. Eendag gaan ek nog my eie koffie op die rakke sit,” vertel hy met ‘n beker sterk koffie in die hand.

Hy droom ook daarvan om ‘n koffietafelboek met sy beste foto’s en stories te publiseer.

Vir eers hou sy werk en gemeenskapsbetrokkenheid hom besig, maar oral waar hy gaan, vat hy sy kamera saam.

Bou hy ‘n arsenaal stories op wat nog baie harte gaan roer – in Afrikaans, want dis sy taal en hy is trots daarop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button