Local newsNewsNews

Twee bejaardes uit brandende huis gered

Die regte tyd op die regte plek, het twee bejaardes se lewens gered.

VANDERBIJLPARK. – “As ons tien minute later opgedaag het, was dit dalk te laat.” So sê Bernard Pieterse, nadat hul vinnige optrede verseker het dat twee bejaardes Vrydagaand, 8 Julie uit ‘n brandende huis gered is.

Die vlamme het bokant Herfsoord se muur uitgeskiet Foto: verskaf

Die drama het hom die aand in Herfsoord Aftreeoord afgespeel toe een van die huise waarin die bejaardes woon, aan die brand geraak het.

Bernard en Joeline Pieterse van J&B Auto Services was met hul insleepvoertuig by die kruising van die R42 (Barrageweg) en Faraday-boulevard.

Hulle staan nie gewoonlik op die betrokke hoek nie, maar die aand het Bernard gevoel hulle moet daar staan.

Noodpersoneel was gou op die toneel. Foto: Verskaf

Kort na 23:00 het hul skielik ‘n geweldige ontploffing gehoor. Joeline sê sy kon die golwe van die ontploffing voel.

Toe hulle opkyk, het hul vlamme bokant die aftreeoord se muur sien uitkom.

“Ek het dadelik vir ER24 gebel en Bernard het na die oord se ingang gejaag,” vertel Joeline.

By die hek wou die sekuriteitspersoneel hul eers nie inlaat nie, omdat dit teen die reëls is.

Hulle het beweer hulle het die ontploffing gehoor, maar dat hulle nie bewus is van enige brand nie.

“Ek het net gesê, of julle maak oop of ek ry die hek plat. Daar brand een van jul huise,” vertel Bernard.

Die hek is oopgemaak en hulle het in die rigting van die vlamme gejaag. “Ons het net gestop toe ons weer ‘n ontploffing hoor. Ek het so geskrik,” neem Joeline die storie verder.

Die binnekant van die huis Foto: verskaf

Bernard het uitgespring en na die brandende huisie gehardloop. Die stoep se dak was weggeblaas en by die kombuis en badkamer was daar net vlamme.

Die hek was gelukkig oop en hy kon ingaan. Binne was twee bejaardes. Hy het eerste die vrou na buite gehelp en is toe weer na binne om die man te gaan haal.

“Die oom het in die rigting van die motorhuis wat aan die huis vas is, beweeg. Die hele huis was reeds vol rook. Dit was moeilik om te sien.

“Ek het my flitslig gebruik om vir die oom te beduie waarheen hy moet gaan, maar hy wou nie. Dit was ontsettend warm. Uiteindelik het ek hom aan die arm beetgekry en uitgehelp,” beduie Bernard.

Dit het toe geblyk dat die man bekommerd was oor hul motor. Teen daardie tyd was ER24 op die toneel en is die twee bejaardes ondersoek.

Die Botha Breakdown Groep se bakkies was ook almal op die toneel en hulle het gehelp om die motorhuis se deur af te breek en die motor uit te kry.

Intussen was AfriForum besig met massapatrollie in die omgewing. Hulle het ook die slag gehoor en het dadelik gaan hulp verleen.

Willem van Onselen sê hy het hul vuurvegter met die watertenk gaan haal en hulle kon die brand blus.

VRU se mense en van die bure het ook kom hand bysit. Teen die tyd wat die brandweer opgedaag het, kon hul voortgaan om seker te maak nêrens smeul iets meer nie en ook om die elektriese toestelle te verwyder en die plek te beveilig.

Die twee bejaardes is later met ‘n ambulans na ‘n hospitaal vervoer vir waarneming.

Niemand is seker wat die oorspronklike ontploffing veroorsaak het nie. Almal is net dankbaar dat hul op die regte tyd in die omgewing was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button