Die Vaal groet een van sy oudste Inwoners
Ouma Leen kon haar kinderjare en jonger dae in Vereeniging nog tot kort voor haar afsterwe goed onthou.
VANDERBIJLPARK. – “Na ‘n lang en vol lewe is ons ou moedertjie op 10 Junie om 10:00 na haar plekkie in die Hemel.”
So sê mnr. Fanie Blignaut van Vanderbijlpark, seun van mev. Leen Blignaut, wat agt dae voor haar 97ste verjaardag gesterf het.
Ouma Leen, soos sy onder vriende en familie bekend was, was een van die langslewende mense wat in Vereeniging gebore is en in die Vaaldriehoek grootgeword het. Sy is op 18 Junie 1925 op die plaas Hekpoort naby Vaalfontein in die Vereeniging-distrik gebore en het die afgelope sowat 30 jaar by Fanie en sy vrou Hikkie, bekend as die stigters van Lewenslig-sentrum vir mense met breingestremdhede, gewoon.
Ouma Leen kon haar kinderjare en jonger dae in Vereeniging nog tot kort voor haar afsterwe goed onthou. Haar pa, wat as volwassene by verskeie boere in die Vereeniging-omgewing gewerk het, was maar 15 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Hoewel hy dié tragiese tyd beleef het, wou hy nooit daaroor praat nie.
Ouma Leen is op 27 November 1942 met Paul Johannes Blignaut getroud, wat in 1978 oorlede is. Die egpaar het drie seuns van hul eie gehad en een aangenome seun wat in 2006 oorlede is. Haar drie seuns het gesamentlik agt kleinkinders en vyf agterkleinkinders en haar aangenome seun het vier kinders en vyf kleinkinders agtergelaat.
“Ons gun ons moeder die rus nadat sy die twee weke voor haar afsterwe met pyn geworstel het. Na 48 jaar is sy nou weer by my pa by ons Hemelse Vader,” sê Fanie.
Haar grafdiens is op 17 Junie by Nanascol-begraafplaas gehou.

****************************************************************

