Local newsNewsNews

Dokkies se Dirkie ’n slangvanger van formaat

'n Skoolseun met 'n passie vir slange vang se hulp is ingeroep toe 'n gesin van Kookrus dié week 'n pofadder in die oprit na hul huis ontdek het.

MEYERTON. – Bedags is Dirkie Rossouw (18) ‘n matriekleerling aan die Hoërskool Dr. Malan, maar ná skool help hy om slange in mense se erwe te vang en hulle dan weer in die natuur vry te laat.

Dié blondekop skoolseun sonder ‘n bang haar op sy kop, het ook sy eie YouTube-kanaal – Catch It All Africa – waar hy video’s oplaai van hoe hy wilde diere – groot, klein, skadelik en onskadelik, vang en videografeer sodat mense die skepsels van naderby kan sien.

Dirkie sê hy het ‘n kursus oor slange vang bygewoon en doen dit al vir die afgelope vier jaar.

In hierdie tydperk het hy reeds sowat 15 slange gevang wat as hoogsgevaarlik beskou word. Dit sluit vier pofadders in.

Dirkie is Maandag, 11 Julie na ‘n huis in Danie Smalstraat in Kookrus ontbied toe ‘n vrou ‘n pofadder in haar oprit gevind het.

Die slang wat wydverspreid oor die vasteland van Afrika voorkom, is verantwoordelik vir meer sterftes as enige ander slang op die vasteland en is glo verantwoordelik vir 60% van alle slangbyte.

Die buurvrou, Chrissie, het Dirkie se nommer op haar selfoon gestoor vir situasies soos dié en het onmiddellik vir Dirkie gebel om te kom help.

Yvonne Hefer (43), die inwoner van Danie Smalstraat, vertel: “Ek het so net voor 14:00 van my skoonouers af teruggekeer, die hek oopgemaak en ingery.

Toe ek uitklim, toe besef ek maar hier lê iets in die oprit. Toe ek trap het die ding sy kop opgelig en toe besef ek meteens dit is ‘n slang.”

Die pofadder wat ‘n vrou van Kookrus in haar oprit ontdek het. Foto: Christiaan Cloete

Yvonne sê sy het reg om haar kar gehardloop, binne by die passasierskant ingespring, die motor in trurat gesit en agteruit gery. Yvonne se seuns, Ruben (9) en Ulrich (7), was saam met haar in die kar.

Yvonne het die bure gebel om te help en toe die skool uitkom was Dirkie daar om te help. Intussen het die slang in ‘n drein ingeseil. Dirkie vertel: “Ek het met aankoms nie geweet waar die slang is nie. Ons het op die geslotekringvideo gekyk en het tot die gevolgtrekking gekom dat die slang nie uit die erf kon geseil het nie.

Ons het die pyp uitgehaal en met ‘n flitslig binne in die pyp geskyn en dit is toe wat ek die slang se kop gesien het,” vertel Dirkie,

Volgens Dirkie het hulle water gebruik om die slang uit die pyp te spoel.

Hy het daarna sy slangvang-toerusting gebruik om die slang te vang en in ‘n emmer te sit.

Die slang is later in ‘n veld buite Meyerton losgelaat. Dirkie erken dat die vang van slange ‘n gevaarlike tydverdryf is.

Sy raad is dat mense eerder van slange af moet wegbly, tensy hulle opgeleide slangvangers is.

Die pofadder wat Dirkie gevang het in ‘n emmer, gereed om weggeneem te word. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button