Local newsNewsNewsSportSport

Wêreldkampioenskap en Statebondspele wink vir ons Marioné

Ontmoet SA hekkieskampioen, Marione Fourie. Sy neem die maand aan die Wêreld Atletiekkampioenskappe in die VSA en die Statebondspele in Engeland deel!

VANDERBIJLPARK. – Marioné Fourie (20) is die huidige Suid-Afrikaanse hekkieskampioen in die 100 meter.

Die jonge dame is maar een van drie Suid-Afrikaners wat dit al kon regkry om die wedloop in minder as 13 sekondes te voltooi.

Die hekkie-blits is tans ‘n tweedejaar student in Sportwetenskap aan Tuks, maar is in Vanderbijlpark gebore en het hier skoolgegaan.

Sy het haar atletiekloopbaan in graad 4 aan die Laerskool Frikkie Meyer begin waar sy die eerste keer hekkies gehardloop en gewen het.

Daar het sy besluit hekkies is vir haar en van toe af het sy voluit gegaan. Met ‘n goeie afrigter aan haar sy, het sy die volgende jaar al aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem en ‘n tweede plek behaal.

Sedertdien was daar aan haar geen keer nie. Sedert graad 7 was sy gereeld in aksie by die SA Skole- en die SA Junior kampioenskappe te sien.

Marione in aksie in die 100m hekkies.
Foto: Verskaf

In 2017 was sy ook ‘n finalis in die afdeling vir Hoërskooldogters in Vaalweekblad se destydse Sportster van die Jaar-kompetisie.

In haar matriekjaar aan die Hoërskool Driehoek het die Covid-19 pandemie toegeslaan en moes die aktiewe atleet by die huis oefen en huiswerk doen. Gelukkig is dit nou iets van die verlede.

In 2021 het sy onder Jaun Strydom begin oefen en ‘n 9de plek by die o.20 Wêreldkampioenskappe in Kenia behaal.

Hierdie jaar het sy haar visier op veel groter byeenkomste. As senior is sy as die SA kampioen aangewys wat vir haar ‘n plek besorg het in die SA atletiekspan wat van 15 tot 25 Julie in Oregon in die VSA aan die Wêreld Atletiekkampioenskappe gaan deelneem.

Die span het op Maandag, 11 Julie na die VSA vertrek. Marione het gesê sy is baie opgewonde om aan die kampioenskappe deel te neem, maar sy is nie baie lief vir vlieg nie en dit is ‘n vlug van 26 ure tot in Oregon!

Die span gaan skaars terug wees in Suid-Afrika, dan is hul weer op pad. Die keer vir die Statebondspele wat van 28 Julie tot 8 Augustus in Birmingham, Engeland plaasvind.

“Ek sien baie uit om oorsee te gaan deelneem. Sjoe, ek gaan teen die Olimpiese kampioene deelneem,” het sy in ‘n telefoniese onderhoud opgewonde gesê.

Haar groot mikpunt is om Suid-Afrika in die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk te gaan verteenwoordig. Vir eers is haar fokus op Oregon.

Marione se familie bly nog in Vanderbijlpark en sy sê hulle is baie trots op haar.

Sy beskryf haarself as ‘n groot diereliefhebber en ‘n mense-mens. Eendag wanneer sy haar atletiekskoene ophang, droom sy om sportafrigter en biokinetikus te word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button