Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Ek wonder oor admin werk en beurtkragskedules. Beide dinge wat my ore aansit.
Sê die baas nou die dag ‘n ding: “Dit behoort nie te moeilik te wees nie, julle 2021 berigte is seker alles in lêers.”
Sien jy hoe kyk al wat joernalis is skielik in ander rigtings. Kyk, ons is goed in baie dinge, van foto’s neem tot by stories aanmekaar slaan.
Ons kan selfs onder druk funksioneer, maar administrasie is nie noodwendig deel van ons arsenaal nie. Beslis nie van myne nie.
Ek koop en hou darem elke week die Vaalweekblad en sit dit in die kas. So nou en dan kry ek die bevlieging en dan begin ek my artikels uitknip.
Die bevlieging hou natuurlik nie lank nie, dan word ek moeg en gaan soek eerder nog ‘n storie om te doen.
Toe baas Thys nou praat van verlede jaar se artikels, toe weet ek daar lê groot werk voor.
Gebruik ek sommer een van die lawwe beurtkragsessies om te begin uitsorteer.
Was ook nie lank nie, toe is my lessenaar toe onder koerante. Wat natuurlik dinge moeilik gemaak het om stories te skryf.
Eindelaas het ek maar die aand gesit en koerantknipsels volgens datum in die lêer gesit. Sommer so voor die TV.
Gedoen is mos gedoen. Gelukkig het ek nie baie administrasie om te doen nie.
Ek onthou ‘n vorige werk waar ek so saam met die redigering en vertaalwerk ook elke maand met syfers moes werk. Wat ‘n ramp! My kop raak mos geheel deurmekaar as dit by syfers kom.
Ek beny mense wat met syfers kan werk en wie se admin altyd op datum is. Maar ja, so het elkeen mos maar hul eie talente.
Ek wil nog die persoon ontmoet wat ELM se beurtkragskedules verstaan. Ek kan hoe lank staar na daardie blokkies, maar keer-op-keer word ek verras deur die ligte wat skielik afgaan.
Oor watter tyd nou eintlik die ergste is, is daar al vele debatte gevoer. Die 08:00 tot 12:00 een is my ondergang, want dan werk ek mos op my beste.
So, het ons twee dae agtermekaar die verpeslike tyd gekry. Die eerste een was op ‘n Sondag en daar was ander dinge om te doen, maar Maandag se voormiddag beurtkrag was ‘n slag.
Sperdatum het sommer dadelik sy swaard uitgehaal toe die ligte en internet afgaan.
Dankie tog vir vriende wat in ‘n ander skedule-sone as ons val, want daar kon ek toe so tussen al hul Maandag bedrywighede darem my skootrekenaar staan maak en die nodige werk gedoen kry.
Die ander tydgleuf wat regtig ‘n pyn is, is die 16:00 tot 20:00 een. Daardie tyd wat mens wil kosmaak en rustig raak voor die TV.
Ek kry die mense jammer met kinders wat dan moet huiswerk doen, kos kry en gebad moet word. Ons sit maar by kerslig en staar vir die horlosie.
Weet nie hoe het hulle in die ou dae by kerslig geskryf en gelees nie, my oë laat dit nie toe nie.
Kom 20:00 is ek skoon moeg gestaar en dan wil ek net gaan slaap. Maar, dan is die ligte aan en moet mens skottelgoed was en Ma wil brei en die honde dink dis speeltyd.
Alles oor Eskom en hul beurtkrag. Maar, ons karring aan. Wat kan ons nou anders doen?
Kragopwekkers het ‘n duur speletjie geword en nie almal kan sonkrag bekostig nie. Ek kan nie eens my admin op datum bring tydens beurtkrag nie, want wie kan nou koerantskrif by kerslig lees?
