Local newsNewsNews

Goeie nuus: Handré (6) is tuis!

Handré Read (6) is tuis en Vaalweekblad het by hom en sy gesin gaan kuier.

SASOLBURG. – Die Reads is weer almal bymekaar en hul beker van dankbaarheid loop oor.

Handré Read (6) is Vrydag, 1 Julie ontslaan nadat hy lank in die hospitaal en later in ‘n rehabilitasiesentrum was. Die gesin was op 27 April in ‘n motorongeluk betrokke.

Juan, Henro, Karen en Sion, met Handré voor.

Almal het in verskillende hospitale beland. Karin se broer van Kemptonpark het ingestaan en die nodige vorms en toestemming vir behandeling namens hulle gegee toe Handré na Netcare-Unie-hospitaal in Alberton gevlieg is.

Dit was die enigste hospitaal waar ‘n bed in die pediatriese intensiewe sorgeenheid oop was, maar soos pa Henro sê, ook dit was ‘n bestiering van ‘n Hoër Hand.

Daardie aand het die professor op die gebied ingestaan vir ‘n kollega en kon hy dadelik vir Handré opereer.

Op die oomblik gaan dit goed met die vyf Reads, alhoewel van die beserings nog ‘n wyle gaan vat om te herstel.

Henro het nog rugpyn en al Karin se gebreekte ribbes het nog nie aangegroei nie. Juan (9) sê hy is nou ‘okay,’ hy is terug by die skool.

Die kraak in Sion se skedel het volkome genees en hy is baie bly sy Handré is tuis.

Sy ma sê toe hul Handré gaan haal het, was Sion by die kleuterskool. Toe hy Handré, sien het hy net gehardloop en hom styf vasgehou.

Die grootste wonderwerk bly egter Handré. Die kopbesering wat hy opgedoen het, word as een van die mees traumatiese beserings beskou.

Karin vertel hoe die dokter wat hom in die ongevalle-afdeling gesien het en sy hare afgeskeer het, ‘n paar weke later by sy hospitaalkamer kom inloer het.

“Ek was besig om Handré jellie te voer en die dokter kon nie glo dis dieselfde kind nie. Hy het net in verwondering gestaan en kyk.”

Alhoewel hy steeds fisio-, arbeids- en spraakterapie moet kry, wys die toetsresultate geen blywende skade nie. Hy het ook nie geheueverlies nie.

Om die waarheid te sê, hy was slegs ‘n paar dae by die huis toe skok hy sy ma tot stilstand toe hy op sy fiets die gang af ry.

Handré Read alom bekend as Vinkie is weer sy normale ondeunde self. Foto: Dandelight Studio

Die einste Handré steur hom nie veel aan die grootmense se gesels nie, sy aandag is op sy selfoon met die speellys van Afrikaanse musiek wat sy pa vir hom gelaai het.

Bok van Blerk is sy gunsteling, al is Spiderman sy held. Hy luister wel, want kort-kort glimlag hy met blink oë in my rigting en begin sommer giggel toe ek uitvra oor die fietsry in die huis.

“Vinkie is weer sy ou self,” glimlag Henro trots en dankbaar. Wat my dadelik weer laat wonder hoekom word hy nou eintlik Vinkie genoem? Die stout laggie is dadelik weer daar.

“Nee,” vertel sy ma, “toe Handré so 2/3 jaar oud was het Henro voëls aangehou. Onder andere sowat 40 vinke. Een oggend toe ek en ons huishulp kyk, het Handré die hok oopgemaak “sodat die vinkies bietjie buite kon eet.”. Kos ons toe om die vinke met die swembad se net te probeer vang en terug te sit,” lag Karen.

“Van my 40 vinke was daar 12 oor,” onthou Henro, “en dis toe dat Handré Vinkie geword het. Na dese ken almal hom as Vinkie.”

Die Reads het hul dankbaarheid teenoor almal uitgespreek wat hul deur die moeilike tyd met woord en daad gedra het.

Van die ambulanspersoneel wat hul nie ‘n oomblik alleen gelos het nie, tot by Koos & Mike wat ‘n motor vir die skool geskenk het wat Henro kon gebruik hospitaal toe.

Henro het ook sy waardering uitgespreek teenoor die Laerskool Vaalrivier se adjunkhoof, Schalk van Rensburg, wat die skool se leisels oorgeneem het.

“Dis ongelooflik hoe die gemeenskap ons gedra het en steeds dra. Sê vir hul dankie, baie dankie,” was hul boodskap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button