Midvaal: Waterlekke – en wat inwoners daaraan kan doen
Midvaal Hoofsweep Rapport 57

Raadsheer Phil C. Pretorius, DA-Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, skryf:
Die waterverliese in Midvaal is relatief hoog. Dit is a.g.v. verskeie redes. Verouderde infrastruktuur veroorsaak waterlekke en barste wat gewoonlik onbeheerbare waterverliese tot gevolge het. Midvaal is diep in ʼn 10 jaar waterinfrastruktuur herstelprogram waar ou asbes- en sementpype met nuwe PVC pype vervang word. Om jare se agterstand in te haal sal egter baie langer vat as die 21 jaar wat die DA in beheer is in Midvaal en waardeer die publiek se geduld en samewerking in die verband.
Wanneer waterlekke herstel word moet die krane in die omgewing dan ook gebloei word om lug uit die sisteem te kry wat addisionele waterverliese tot gevolg het. Ons vind gereeld dat inwoners by ʼn waterlek stop en ons inlig dat daar nog ʼn aantal ander lekke net om die draai is, aldus die bloei van daardie omliggende krane. Maar dit wys ook dat die inwoners van Midvaal omgee en die munisipaliteit ondersteun en waterlekke aanmeld so gou as moontlik. Daar is natuurlik die een of twee persone wat plesier daaruit put om waterlekke op sosiale media te verkondig en die munisipaliteit sleg te maak, maar bloot weier om dit self aan te meld of die ligging te verskaf. Gelukkig word hierdie persone vinnig deur die samelewing uitgesorteer wat nie blind is vir sulke persone se arrogansie en boelie-taktieke nie.
Daar is talle maniere om waterlekke aan te meld. Laai bloot die MyMidvaal Toepassing af van die PlayStore en klik op Register incidents. Daar kan u foto’s laai, die probleem beskryf en die adres van die probleem intik terwyl die “app” outomaties u ligging registreer. Die app sal selfs u die opsie bied om die ligging self in te sit as u nie meer op die toneel is nie. Die ander opsie is om die Kliëntedienslyn te skakel waar ons vriendelike personeel u sal help en ook aan ʼn verwysingsnommer verskaf. U kan ook u plaaslike Wyksraadslid nader wat dit namens u kan aanmeld of die saak namens u kan opneem. In baie gevalle is dit reeds aangemeld en kan die raadslid reeds terugvoering in die verband gee.
ʼn Noemenswaardige hap van die waterverliese kom van waterdiefstal af. Dit is persone of besighede wat water onregmatig gebruik en nie daarvoor betaal nie. Daar word gereeld teen inwoners opgetree wat byvoorbeeld brandkrane gebruik om motors te was en by privaatwonings die watermeter omseil. Nie net is dit oneerlik nie maar veroorsaak dat die munisipaliteit se waterverliese omgeskakel word in finansiële verliese wat die ouditverslag kan beïnvloed en noodgedwonge almal se erfbelasting affekteer. Indirek beteken dit dat die oneerlike inwoner se bure vir sy/haar water moet betaal deur addisionele heffings op die watertariewe om die verliese te probeer verhaal. Meld dus asseblief enige onregmatige watergebruik aan by die kliëntedienslyn so gou moontlik.
Wanneer ʼn inwoner ʼn waterlek op sy/haar erf het kan dit moontlik eers met die volgende munisipale rekening na vore kom. Teen daardie tyd kan u alreeds ʼn paar rand uit die sak wees a.g.v. ʼn lek wat niemand kan sien nie omrede dit te diep is of in die reënseisoen plaasvind. Wanneer die lek aan u kant van die watermeter is, is die onus op u om dit te herstel en die kostes daarvoor te dra. Dit is dus ʼn goeie idee om elke paar weke alle krane in u woning toe te maak en die meter na te gaan om seker te maak dat hy nie loop wanneer u nie water gebruik nie. Indien wel, is daar ʼn lek en moet u dringend ondersoek instel. Daar is inwoners in die ou Meyerton woongebied wat onlangs geen lekke kon vind nie en al hulle waterpype moes vervang a.g.v. verwering van ondergrondse pype.
Maak ook seker dat u watermeter skoon en leesbaar is sodat die meterlesers maklike toegang daartoe het en die meters kan lees. Dit is die inwoner se verantwoordelikheid en die regte ding om te doen.
Trotse Midvaal Groete, Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

**********************************************************************************************************************************

