Local newsNewsNews

Druk jou emosies keurig uit in AVBOB poësiekompetisie

Die sesde seisoen van die jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie open op 1 Augustus 2022 vir inskrywings in al 11 amptelike tale. Weer wag daar ruim kontantpryse op die wenners.

Suid-Afrikaners op alle vlakke van die samelewing word aangemoedig om hul keurigste woorde van liefde en hoop, moed en troos in digvorm uit te druk. Die beste inskrywings in elke taalkategorie sal in die AVBOB Poësiebiblioteek gepubliseer word en terselfdertyd vir die skrywer R300 verdien.

Die eerstepryswenners in elke taalkategorie sal ’n groot prys ter waarde van R12 500 ontvang. Dit sluit in R10 000 kontant, ’n boekbewys van R2 500 en die gesogte AVBOB Poësietrofee.

Volgens Carl van der Riet, Uitvoerende Hoof van AVBOB, “Dit is ’n riem onder die hart om te weet dat ons almal in oomblikke van ons grootste hartseer of vreugde dieselfde emosies as ons voorouers van vorige eeue ervaar.

Dis in sulke tye, wanneer dit voel of ons nie meer woorde het nie, dat ánder se woorde ons troos of steun kan bied. Die doel van die AVBOB Poësiekompetisie is om ’n gesamentlike ruimte te skep waar alle Suid-Afrikaners hul diepste emosies met mekaar kan deel.”

Digters kan tot 10 gedigte via die aanlynwebtuiste indien. Die top drie in elke taalkategorie sal in die jaarlikse gedrukte bloemlesing opgeneem word. Alle gedigte op die kortlys sal in Engels vertaal word om ’n gees van begrip en samesyn onder Suid-Afrikaners aan te wakker.

AVBOB Poësie se sosialemediaplatforms is propvol wenke oor hoe om aan die gang te kom, sowel as aanwysings deur die beoordelaars. Drie verskillende bronne is op die AVBOB Poësie-webtuiste beskikbaar om aspirantdigters te ondersteun en aan te moedig.

Dit sluit in deskundige advies, artikels oor suksesvolle digters en redaksionele riglyne. ’n Toevoeging vanjaar is ’n reeks gratis aanlynwerksessies wat voor en tydens die kompetisie aangebied word deur ervare digters en uitgewers wat jou skeppendheid sal inspireer en aanspoor (werksessiebesonderhede sal op AVBOB Poësie se sosialemediakanale bekend gemaak word).

Om aan die sesde AVBOB Poësiekompetisie deel te neem, registreer by www.avbobpoetry.co.za. Skryf tussen 1 Augustus en 30 November 2022 10 gedigte in jou moedertaal in. Dalk is jý die volgende wenner!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button