Local newsNewsNews

Clarissa maak ‘n verskil, een hond op ‘n slag

Ons maak nader kennis met Clarissa Swanepoel wat dit haar missie gemaak het in die lewe om honde te red.

MIDVAAL. – Clarissa Swanepoel (31) het ‘n hart vir diere, veral honde en dan spesifiek ook die rasse wat as aanvalshonde gebrandmerk is – almal van rottweilers tot by staffies en bulterriërs.

Dit is mense wat haar moeg maak. Mense wat diere mishandel en agterplaastelers maak haar woedend.

Clarissa en Philip Swanepoel Foto’s: Verskaf

Dan praat ons nie eens van die honde wat as veghonde aangehou word of vir pornografiese garage-video’s ingespan word nie.

Die dat sy eerder kans sien vir honde as mense. Clarissa maak dit al vir jare haar missie om soveel as moontlik van hierdie honde te red.

Oor die jare het sy ook besef soms is genadedood die enigste uitweg vir van hierdie arme diere wat voos geveg of selfs verkrag is.

“Die eerste hond wat ek moes laat uitsit, het my siel geruk,” vertel sy.
“Ek het haar op my skoot vasgehou en haar stertjie het gewaai. Daar was geen ander uitkoms vir haar nie.”

Clarissa en Philip Swanepoel saam met van hul honde. Die groot wit hond in die middel is Max die inspirasie agter die nie-winsgewende organisasie, Life of Max.

Sedertdien het sy al ‘n hele ritueel ontwikkel en sorg sy dat elke hond wat te moeg baklei, te veel geteel of psigies en fisies so erg mishandel is, ‘n bietjie getroetel word en iets lekkers kry om te eet voordat sy hul huis toe laat gaan.

“Daar is ‘n spesiale hemel vir diere. Ek glo dit,” sê sy en haar oë blink. Elke hond bly vir haar spesiaal.

Clarissa het met rottweilers grootgeword en het baie navorsing oor pitbulls gedoen. Sy verstaan die honde se lyftaal en weet hoe om met hulle te kommunikeer.

“Ek en die ‘kwaai honde’ is vriende, dis die kleiner, skoothondjies wat my gewoonlik wil byt,” lag sy lekker.

Clarissa en Dribble

Alhoewel sy al op 15 by dierewelsyn betrokke geraak het, het sy in 2014 regtig besef iemand moet iets doen. “Ek het myself gevra, as ek nie iets doen nie, wie gaan dit doen?,” vertel sy.

Dit was toe haar paaie met die pitbull Max gekruis het. “In 2014 het die polisie my eendag gebel en gesê ek moet kom help, daar is ‘n lyk in ‘n erf, maar daar is ook ‘n kwaai hond.

“Hulle wil nie die hond skiet nie, maar hulle sal by die erf moet inkom. Ek is dadelik daarheen en dit het my drie ure gevat om Max tot bedaring te bring.

“Ek het net geweet ek moet hom nie uitsit nie. Daardie aand het ek hom gestort en gehelp. Max is as ‘n gevegshond gebruik en is met ‘n piksteel voor op sy kop geslaan.”

In 2015 het Clarissa die nie-winsgewende organisasie gestig, Life of Max en kort daarna het sy Pet Aupair Vaal Triangle gestig.

Sy gaan pas mense se honde vir hul by hul huise op en met die geld wat sy met diere oppas genereer, red sy soveel as moontlik honde.

Sy het ook ‘n sterilisasiediens begin. Vir jare ry Clarissa elke week Midrand toe waar sy honde by ‘n dierehospitaal laat steriliseer.

“Ek moet noodwendig ‘n fooi vra, maar dis nie om geld te maak nie, wat ek doen, doen ek vir die honde.”

Dan red sy steeds soveel as moontlik pitbulls uit haglike omstandighede. “Mense het geen idee hoeveel hondegeveg sindikate is in die omgewing nie.

“Mense het oor die algemeen geen idee wat daar buite aangaan nie. Honde word misbruik, mishandel, verkrag en dan is daar nog wraggies mense wat hondjies en katjies gratis weggee vir goeie huise op Facebook!”

Haar boodskap vir mense is: “Jy weet ek is al met die dood gedreig oor hierdie honde, maar ek sal aanhou doen wat ek doen. Ek wens net mense wil ophou om met honde en katte te teel.

“Steriliseer hulle, asseblief! En doen navorsing oor ‘n honderas voor jy ‘n hond aanskaf. Onkunde het al tot baie skade en seer gely.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button