162 Vullisterreine landwyd geoudit – so staan sake in Vaal
AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet. Midvaal was soos gewoonlik onder die top presteerders.

Die meeste vullisterreine in Gauteng word as aanvaarbaar bestempel, maar die stand van sake in die Vrystaat word as ‘n “ramp” beskryf.
In Gauteng is die Alberton-vullisterrein die enigste een wat 100% nakoming behaal het. Vyf ander vullisterreine het in die 90% nakoming behaal, waaronder Meyerton tel met 92% (dit is egter effens swakker as 2021 se 98%).
Die Vanderbijlpark-vullisterrein het slegs 34% behaal (maar beter teenoor verlede jaar se 12%).
Die Waldrif-vullisterrein in Vereeniging het ook slegs 34% behaal (maar is ook beter as verlede jaar se 24%).
In totaal het 11 uit 19 vullisterreine wat in Gauteng geoudit is, aan nasionale standaarde voldoen.
Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Suid sê dat alhoewel die vullisterreine in Gauteng goed onderhou word en aan alle wetgewing voldoen daar steeds groot kommer is oor die beperkte lug spasie wanneer dit by Gauteng se vullisterreine kom.
“Wanneer jy kyk teen die tempo waarteen Gauteng uitbrei en die tempo waarteen munisipaliteite en metro bepalnning doen vir uitbreiding en bepalnning van nuwe vullisterreine stuur ons op ‘n vullis ramp af,” sê Ungerer.
Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

Wat die Vrystaat betref gaan dit nog slegter. Geen van die 25 vullisterreine wat in die Vrystaat geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen nie.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is al die vullisterreine in die Vrystaat in ’n haglike toestand.
“Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan munisipaliteite wat nie die wil het om aan die standaarde te voldoen nie. Weens wanbestuur is daar nie fondse om op die regte plekke, waaronder vullisterreine, aan te wend nie. Dit is skreiend dat die omgewings so besoedel word.”
Welkom-vullisterrein het die hoogste syfer, net 38%, behaal.
Die Sasolburg-vullisterrein het net 20% nakoming behaal (in 2021 was dit 14%).
Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, sê die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine.
“’n Deel van die probleem is dat daar nie bevoegde mense aangestel word in die betrokke poste nie, dus is daar onkundigheid oor die bestuur van die vullisterreine,” sluit hy af.

