Local newsNewsNews

60 jaar getroud! Veels geluk!

Sestig jaar gelukkig getroud! Dis 'n prestasie.

VEREENIGING. – Gert en Esther Coetzee vier op 21 Julie hul 60ste huweliksherdenking.

Die egpaar woon nou al vir 59 jaar op hul kleinhoewe in Unitaspark. Hier het hulle vyf kinders grootgemaak.

Die kleinkinders het op die hoewe gespeel en nou is dit die agterkleinkinders se beurt.
Esther sê dit voel nie vir haar of daar al 60 jaar verby is nie.

Gert Coetzee in sy Springbokbaadjie. Hy was ‘n Springbok bokser in 1959.

Sy en Gert het destyds in Peacehaven ontmoet toe hy vir vriende gaan kuier het. Hy kom oorspronklik van ‘n plaas in die Zeerust-distrik af.

Esther het destyds saam met haar ma en stiefpa vanaf Port Elizabeth na Peacehaven verhuis. Sy lag as ek vra of dit liefde met die eerste oogopslag was.

“‘n Mens kan so sê,” glimlag sy.

Gert het in 1959 sy Springbokkleure vir boks verwerf en het jare vir Usco gewerk voordat hy voltyds op die kleinhoewe kom aftree het.

Een van hul kleinseuns, Sarel Doubell, woon ook op die kleinhoewe en hou ‘n oog oor sy ouma en oupa.

Hy beplan juis om hul die 21ste uit te neem vir ete en Saterdag kom die meeste van die familie bymekaar vir ‘n gesellige spitbraai.

Op hierdie kleinhoewe is daar al baie gekuier. Soos Sarel sê: “Ek het my jonger neefs en niggies hier met daardie ou trekker op ‘n wa gesleep en nou gaan ek dit met die agterkleinkinders ook doen.”

Die egpaar is baie opgewonde om almal weer te sien. Hulle is geseënd met vyf kinders, 12 kleinkinders en vyf agterkleinkinders. Die meeste woon nog in Suid Afrika.

Beide se gesondheid is nog relatief goed. Ouma Esther sukkel net met artritis wat veroorsaak dat sy nie meer so beweeglik is en kan gaan kuier nie.

“Op my dag het ek darem die meisiekinders baie rondgery,” onthou sy. Hul twee dogters het albei gimnastiek gedoen en moes heeldag gekarwei word. “Die kinders het my jonk gehou,” glimlag sy.

Oupa Gert is heelwat stiller, maar sy lewendige blou oë neem alles waar. Hy skud net sy kop toe sy vrou nie wil sit vir ‘n foto nie. “

Sarel kan sommer foto’s stuur daar van sy foon af,” beduie Esther en Gert lag net.

Die twee geniet hul aftreejare op die kleinhoewe. Wanneer daar nie kuiergaste is nie, ontspan hul voor die TV.

Hulle hoop juis hul kleinkinders bring binnekort die jongste toevoeging tot die uitgebreide familie, ‘n agterkleindogter wat maar twee weke terug in Kimberley gebore is om te kom kuier.

“Hulle kan nie dadelik met so ‘n klein dingetjie ry nie,” meen Esther. “Ag nee wat, hulle kan maar ry. Dis vinnig. Hulle ry mos nie met ‘n ossewa soos in die ou dae nie,” kap Gert terug met ‘n vonkel in sy blou oë.

Steeds ondeund. Steeds daar vir mekaar. Voel vir hulle soos gister, maar 21 Julie 1962 is ‘n leeftyd in die verlede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button