Local newsNewsNews

Bonny en kalf verskaf pure plesier aan Vaal-stadsjapies

VANDERBIJLPARK. - Die River Dance Dairy winkel in SE2 gee nou aan stadsjapies die geleentheid om te ondervind hoe dit voel om self ‘n koei te melk.

Die melkwinkel op die hoek van die Perfect Centre, was onlangs die middelpunt van belangstelling toe nie net Bonny die melkkoei voor die winkel was nie, maar boonop ook die oulikste kalf.

Veral kinders was gretig om die kans te benut om Bonny van nader te beloer en te melk, en dan sommer dadelik die lekker melk te kon proe ook.

Maar daar was ook ‘n paar oupas wat dit baie geniet het (een oupa het gesê hy het 65 jaar laas ‘n koei gemelk). Dit moes seker vir lekker herinneringe gesorg het.

Fourie de Lange het dit sommer vinnig bemeester hoe om ‘n koei te melk, danksy Abram Rantini se hulp. Foto’s: Elsje Vermeulen

Maar wie moet vir dié lekker geleentheid bedank word? Die trotse eienaars – Trevor en Claudia Colby.

Hulle het die melkery in 2000 begin met net 11 melkkoeie. Nou, 22 jaar later, word daar 200 opregte Bred Study Jerseys gemelk om topgehalte produkte te voorsien.

Hulle het in 2000 hul besigheid op ‘n kleinhoewe tussen Vereeniging en Deneysville begin. Vandag word die besigheid vanaf ‘n 240 hektar plaas bestuur met net onder 500 koeie in totaal wat vir onderskeie produkte ingespan word.

Die winkel by Perfect Centre is hul derde melkwinkel waar daar verskeie produkte te koop is.

Vanderbijlpark-tweeling Aiden (geel baadjie) en Jayden Diedericks saam met die kalfie.

“Alles is tuisgemaakte produkte. Ons jogurt is die lekkerste in die hele Vaaldriehoek. Kom besoek ons gerus en vra om te proe,” nooi Trevor.

Bonny het reeds vier keer die winkel besoek en oor daardie vier dae het sowat 1 500 kinders van alle ouderdomme reeds die kans benut om haar te melk.
Bonny is so gewild dat Trevor en Claudia besluit het dat sy elke laaste Saterdag van die maand by die winkel sal wees.

* So dagboek 30 Julie sommer nou al en gee jou kind die geleentheid om Bonny te melk, terwyl jy die jogurt in die winkel gaan proe.

Die melk kry Caylee van Dyk se goedkeuring.
Caylee van Dyk laat haar babasussie nader kennis maak met die kalfie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button