Een man se uitreik, verander baie se toekoms
Ontmoet Ivan, ‘n oudleerling van Eurekaskool, wat onlangs deur Nick Rheeder die kans van ‘n leeftyd gegun is.
VANDERBIJLPARK. – Ivan Viljoen is 20 jaar oud. Hy wil graag werk en leer vinnig, maar mense wou hom nie help nie, of het hom bittermin betaal.
Net nou die dag nog het ‘n man sy CV in sy gesig gegooi en vir hom gesê Ivan moenie sy tyd mors nie. Hy was in Eurekaskool. Hy beteken niks.
Die onregverdige veroordeling het sy ma, Charmaine, uit radeloosheid genoop om haar tot sosiale media te wend.
Sy het op Vaalweekblad se Facebookgroep gevra of iemand nie haar seun ‘n kans wil gee nie? Natuurlik was die sleutelbordkrygers weer op hul stukke.
Kry vir hom ‘n regeringstoelaag was die algemene raad, terwyl daar selfs ‘n vrou was wat wou weet hoe sy kon toelaat dat haar seun trou en ‘n kind het.
Charmaine vee trane af as sy die storie vertel. “Ivan het op ‘n stadium die toelaag gekry, maar hy het vir my gesê: ‘Ek kan werk, die geld moet eerder na mense toe gaan wat glad nie kan werk nie’,” onthou sy.
Een man het Charmaine se pleidooi raakgesien en daadwerklik iets gedoen. Nick Rheeder van Purple River Training het gesê hy sal help en hy het.
Deur hom het Ivan sy basiese takelaarskursus geslaag. Ook nie net deurgeskraap nie, hy het met 98%, baie beter as enige ander student gevaar.
Nick het ook reeds vir hom ‘n werk georganiseer by New Generations Rigging. Met Vaalweekblad se besoek, het Ivan net gewag vir die datums om vir sy ABC toetse te gaan.
“Binne drie jaar sal Ivan sy rooi seël hê,” verduidelik Nick. “Hy sal ook dan altyd werk hê. Daar is ‘n groot aanvraag vir gekwalifiseerde riggers (takelaars) in Suid-Afrika. Ivan het ‘n talent vir die werk en hy stel werklik belang.”

Hoekom het Nick betrokke geraak? “Ek en my vrou diskrimineer nie by hierdie opleidingsentrum nie. Nie teen ras, geslag, ouderdom of enige gestremdheid nie.
“Ek glo vir elkeen kan daar ‘n werk wees, iets wees wat hul kan leer om goed te doen. Ek word sommer kwaad as mense net afgeskryf word,” beduie hy.
Hy sal weet. Self was hy vir jare ‘n rooi seël ambagsman wat lank vir een firma gewerk het. In 2015 was hy in ‘n motorfietsongeluk wat hom maande in ‘n koma gelaat het.
Toe hy daar wakker word was hy vir eers in ‘n rolstoel gekluister. Dokters en sy werk het hom afgeskryf. Hy is ongeskik vir werk verklaar.
Nick het dit egter nie aanvaar nie. Met sy vrou se hulp en sy sterk geloof het hy voortgebeur en weer leer loop. Onlangs het hy weer 100% vir ‘n assessorskursus gekry.
“Ek makeer niks,” verklaar hy. “My God kyk na my en ek glo Hy het my in die posisie gesit om ander te help.”
Sy vrou, Chantell Steffens, het die sentrum in 2014 begin. Hy het na sy ongeluk by haar aangesluit.
“Ons is nie hier om ryk te word nie. Ons is hier om mense te help wat gehelp wil word,” verklaar Nick.
Ivan Viljoen is beslis een van daardie mense wat dankbaar sy kans tot ‘n beter lewe met albei hande aangegryp het.
