VAALPARK. – Saterdag, 30 Julie is ‘n groot dag vir alle motorentoesiaste. Dit maak nie saak of jy hou van ou motors, nuwe motors, blinkes of raserigs nie.

Daar sal iets van alles wees by die On Wheels Motorskou wat plaasvind by die Body Works Health Club, Baviaanskloofstraat, Vaalpark.
Die dag word georganiseer deur die Greenstone Pre-School & Aftercare Academy. Loumarie De Man die skool se algemene bestuurder het gesê die motorskou is deel van hul fondsinsamelingsprojekte vir die skool.
Die fondse word aangewend vir opgradering en instandhouding van die unieke voorskool in President Swartstraat.
Behalwe vir die veteraan motors van die Motorklub RSA, die Sound Devils se motors met die ekstra klank en die Shine and Show motors, sal daar ook verskeie stalletjies wees wat iets van alles te koop aanbied.
Kosstalletjies gaan bydrae tot die regte kermis atmosfeer en vir die kinders is daar ‘n gesigverf-stalletjie en ‘n springkasteel.
Loumarie sê daar is nog so paar plekke beskikbaar as mense stalletjies wil hê. Die prys beloop R200 per stal sonder ‘n kragpunt en R300 per stal met ‘n kragpunt.
Stalletjiehouers hou alle winste vir die dag en hoef net die stalletjiefooie te betaal.
Die verrigtinge begin om 09:00 en sal tot 16:00 duur. Toegang is gratis.
Die skool se ander opwindende projekte vir die jaar, sluit in ‘n 5 km Colour Run by Vaalpark Primêr in op 10 September, ‘n konsert op 12 November en ‘n ope week vir voornemende maatjies vanaf 24 – 28 Oktober.
Greenstone is ‘n jong skooltjie wat te midde van die Covi-pandemie oopgemaak het. Tans is daar vyf gekwalifiseerde onderwysers en kinders vanaf 4 maande tot 6 jaar word ingeneem.
Hulle het ook ‘n naskool fasiliteit en vervoer om die kinders by die laerskole te gaan optel en Greenstone toe te bring.
Die kinders kry elke dag ontbyt, ‘n mid-oggend versnappering en gekookte kos vir middagete.
Aangesien hul van 06:00 tot 18:00 elke dag oop is, is hul ideaal vir ouers wat laat werk of buite die Vaaldriehoek werksaam is.
Maak gerus Saterdag ‘n draai by die motorskou en mini-kermis en kom ontmoet Loumarie en haar span persoonlik.

