MK-lede weier dat amptenare Emfuleni se munisipale kantore betree
ʼn Groep Umkhonto we Sizwe (MK)-lede het gister geweier dat amptenare die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se kantore binnegaan om met hul werksdag te begin.
Raadslid Gerda Senenkal (VF Plus-raadslid: Emfuleni-plaaslike munisipaliteit) het in in ‘n mediaverklaring gesê dat dit veroorsaak het dat geen rekening betaal of navrae beantwoord kon word nie.
Die munisipaliteit is reeds onder gedeeltelike administrasie geplaas weens sy swak finansiële bestuur.
Die sekuriteitsmaatskappy wat maandeliks R6 miljoen van die munisipaliteit ontvang, se wagte het nie eens probeer om die MK-lede te stop en munisipale werkers deur te laat nie.
Die polisie het ure daarna opgedaag en teen daardie tyd het die oorgrote meerderheid van munisipale werkers reeds na hul wonings teruggekeer.
Die VF Plus het reeds ʼn brief gestuur aan die administrateur, Gilberto Martins, om die saak te ondersoek.
Die party eis dat die sekuriteitsmaatskappy se kontrak heroorweeg word.

“Die munisipaliteit se werksaamhede kan nie benadeel word deur beloftes wat verlede jaar glo voor die munisipale verkiesing aan die MK-lede gemaak is nie,” sê rdl. Senekal.
“Die vorige burgemeester, Gift Morane, het in sy 2021-munisipale openingsrede gesê dat die munisipaliteit 100 poste vir algemene werkers gaan skep en het MK-lede aangemoedig om aansoek te doen.
“Daar is 14 000 aansoeke ontvang, maar niemand kon aangestel word nie aangesien daar nie vir die poste begroot is in die munisipaliteit se onbefondse begroting nie.
“Die inwoners van Emfuleni is nou weer eens die slagoffers van die ANC se opportunistiese beloftes om stemme te werf,” sluit rdl. Senekal af.
