Wewenaar se stryd: ‘n Vreemde vrou lê in my graf!
“Ek en die seuns het al die moontlikhede oorweeg, maar nie een hiervan is vir ons aanvaarbaar nie,” sê mnr. Gert Olivier.
SASOLBURG. – Verstom en magteloos kwaad. Dis hoe ‘n Sasolburgse man sy emosies beskryf nadat hy onlangs met skok uitgevind het dat ‘n vreemde vrou skielik begrawe lê in die graf wat hy vir homself langs dié van sy oorlede vrou bespreek en betaal het.
Dis skaars sewe maande nadat mnr. Gert Olivier van Menellstraat, by sy vrou se graf van haar moes afskeid neem. Elize (61) was sy maatjie vandat hulle 42 jaar gelede ontmoet het toe hulle saam by Sasol begin werk het. Na ‘n huwelik van 38 jaar het hy haar op 28 Desember 2021 weens orgaanversaking verloor. Sy was die voorafgaande drie jaar ‘n lupuslyer en het verlede jaar kort na haar Covid-inenting beswyk. Vir Gert en hul twee seuns, Flip en Deon, lê die seer nog na aan die oppervlak. Dis dié dat die skok so groot was toe hulle sien iemand anders lê nou skielik langs haar in die graf wat vir hom bedoel was.
“Dis my plek daardie. Ek wil eendag daar langs my vrou lê. Dit is waarom ek my graf dadelik langs hare bespreek en R3 381 vir die twee grafte betaal het toe ons haar in Januarie daar begrawe het,” sê Gert.
Dit is duidelik dat hy sy plek langs haar nie sonder ‘n groot geveg gaan opgee nie, maar sy stryd is nie teen die oorlede Sotho-dame wat op 22 Junie gesterf het en nou in sy graf lê nie. Dis teen die Metsimaholo-munisipaliteit wat onnoukeurig was en die reeds bespreekte graf foutiewelik aan haar familie herverkoop het, sê hy.
Dit blyk egter dat dit makliker gaan wees om Tafelberg te verskuif as om die Sotho-dame se oorskot na ‘n ander graf toe oor te plaas.
Gert het die afgelope weke behoorlik vuurgemaak onder munisipale amptenare en het ook raad en regsadvies by gemeenskapsdrukgroepe aangevra, maar tot dusver is daar nog geen vordering nie. Die Parke-afdeling se voorgestelde opsies is dat Elize se graf dieper gegrawe moet word sodat hy eendag bo-op haar begrawe kan word, of dat ‘n smal graf aan die ander kant van hare geskep word, maar die ruimte daar is baie min. Dit gaan nie in ‘n mooi lyn lê nie en die graf sal spesiaal versterk moet word om nie in te val nie.
Nog ‘n opsie is dat die munisipaliteit ‘n ander graf redelik na aan hare vir hom beskikbaar maak, al is dit dan nie langs mekaar nie. “Ek en die seuns het al die moontlikhede oorweeg, maar nie een hiervan is vir ons aanvaarbaar nie,” sê Gert. Hy sal dit ook nie eers oorweeg om twee splinternuwe grafte te aanvaar en Elize daar te laat herbegrawe nie. “Ons gesin begin nou maar eers haar dood verwerk. Ons sien nie kans om van vooraf deur al die emosie te gaan nie,” sê hy.
Gert meen die enigste oplossing is dat die munisipaliteit erken dat ‘n fout begaan is en dat hulle die Sotho-dame, wat verkeerdelik in sy graf begrawe is, in ‘n ander graf moet herbegrawe. Dit gaan egter ‘n hooggeregshof-aansoek vereis wat lank kan sloer, veral as haar familie die aansoek teenstaan. En boonop sal Gert self die aansoek moet bring. “Hoekom moet ek die regstappe hanteer? Dit was mos nie my fout nie. Ek wil net hê my vrou moet in vrede rus en dat my plek langs haar vir my beskikbaar moet wees.”
* DA-raadslid, mnr. Jacques Barnard het Dinsdag aan Vaalweekblad gesê die Metsimaholo-munisipaliteit ondersoek die aangeleentheid dringend. Hy het bygevoeg dat ‘n plaaslike regsgeleerde aangebied het om die saak pro bono vir die Olivier-familie te hanteer.



Mnr. Gert Olivier, wat sy vrou Elize in Desember verlede jaar verloor het, veg nou om sy bespreekte plek langs haar graf terug te kry.
*******************************************************************************************
