Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Hoe moeilik kan dit nou wees om skottelgoed na wense te was?
RUBRIEK. – Skottelgoed was. ‘n Daaglikse ding in elke huishouding. Vir party is daar ‘n masjien wat in- en uitgepak moet word.
Vir ander is daar die wasbakding. Ons is nog op die ou manier van skottelgoed was, in die wasbak.
Elkeen het ‘n ander manier hoe om skottelgoed aan te pak. Party laat dit ophoop en as daar wraggies nie meer ‘n skoon glas of beker in sig is nie, dan word die prop in die wasbak gedruk en operasie skottelgoed begin.
Nie in ons huis nie. Pa het my kleintyd geleer, ‘n mens gaan slaap nie voordat al die skottelgoed nie gewas, afgedroog en weggepak is nie.
Ek glo daaraan om eers die wasbak heeltemal uit te pak en dan alles in te pak sodat ek kan weet waar is wat. Veral die messe. Ek is links en moet darem weet watter kant toe lê die mespunte.
Ek stapel alles op, druk die prop in en spuit van daardie een-teelepel-kan-met-die-bure-gedeel-word-seep in.
Volgens Ma spuit ek te min in want die skuim raak gewoonlik halfpad weg, dan blameer ek die dorp se harde water. Geen idee wat dit beteken nie, maar dis wat Pa ook altyd gesê het.
Die probleem kom by die was. Ek dink ek was ‘n ding skoon, maar dan kry Ma die bak of pot beet na ek reeds met die handige hansie bottel en sponsie daardeur is.
“Ag nee, Gerda, kyk ek kan my naam nog hier inskryf” en dan heel dramaties verskyn haar naam in die pan. Sy sê ek was skottelgoed soos my pa dit gedoen het. “Dip-‘n-ouma-styl.”
Ek doop blykbaar net die borde in die seepwater en dan in die afspoelwater en dan dink ek dis skoon.
Lag ek nou die dag toe ek by ‘n vriend van my, my beker was en hy sonder dat hy kyk kwytraak: “Sit dit terug in die wasbak, jy het daai ding net gedoop. Ek sal nou was.”
Ondankbaar. Hoe lank wil hulle nou hê moet mens aan een bordjie staan en was?
Hoeka seg ek altyd dat die wasbak net so 5 cm te laag is vir ons lang Bruinettes. Vreet mens se rug as jy so half gebukkend moet staan en was.
Kan iemand my dan kwalik neem as ek half was? Ek meen, droog net harder af!
Huiswerk is nie een van my sterkpunte nie. Ma sê ek vee-vee net so met die mop oor die vloere, ek was dit nie behoorlik nie.
Skuus? Daar was ‘n merk of ‘n Antjie-spoor op die teël en nou is dit weg. Wat meer wil mens hê?
Sulke tye wat ek besef, die ou gesegde van skoenmaker hou jou by jou lees, is steeds geldig. Ek hou liewer by woorde, sinne en paragrawe om stories aanmekaar te slaan.
Dis die ander ding, ek kan so droomverlore raak as ek veronderstel is om dinge te doen soos skottelgoed te was of vloere te vee.
My gedagtes raak betrokke by artikels wat nog geskryf moet word en onderhoude wat gedoen moet word en dan vergeet ek klein goedjies, soos om die pot te was waar ek dit nog die heeltyd vasgehou het.
Dit gebeur tog seker in die beste van families. Ek is seker ek is nie die enigste een wat ‘n dip-‘n-ouma-skottelgoed-styl het nie en hopelik het ander ook al ingedagte die broodbord in die wasbak laat val dat water die vloer vol lê … Ongelukke gebeur mos maar. Ek sê maar net…
