Die Vaal verloor ‘n rolmodel en steunpilaar
* Die gesin wil graag in verbinding tree met ooggetuies van die ongeluk. Enigiemand met inligting kan Carika kontak by 084 625 4619.
VEREENIGING. – Met die dood van Riaan Barnard (49) in ‘n motorfietsongeluk op 2 Julie het die Vaaldriehoek ‘n ware steunpilaar en rolmodel verloor. So sê die familie, vriende en kollegas van dié gewilde man, wat geen geleentheid laat verbygaan het om ander te help nie.
Vaalweekblad het reeds gedurende die Covid-inperking berig oor Riaan, wat as lid van die Dogs of War-motorfietsklub by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke was – van insamelings vir die Laerskool Handhawer se voedingskema, tot hulp aan oorlogsveterane in nood.
Riaan was die Saterdagoggend van 2 Julie met sy motorfiets op die Walkerville-pad (R82-roete) op pad huis toe na die kranslegging vir Volker Baumgartner, ‘n ander motorfietsryer wat in ‘n botsing gesterf het, toe hy omstreeks 12:00 die middag self in ‘n botsing met ‘n wit Mercedes betrokke was. Riaan se toestand was kritiek en hy het later die dag sy stryd in die hospitaal verloor.
Hoewel Riaan in Tsumeb, Namibië gebore is, het hy die grootste deel van sy kinderlewe in die Vaaldriehoek deurgebring. Hy het aan Laerskool Noordskool en HTS Sasolburg skoolgegaan voordat hy sy ambag as elektrisiën by African Cables gedoen het. Volgens sy vrou, Carika, het sy belangstelling in noodhulp-opleiding veral gedurende sy dienspligjare, eers by Tempie in Bloemfontein en later in Phalaborwa begin, waar hy in 1990 as onderkorporaal uitgetree het.
“Hy was altyd toegerus met ‘n volledige paramediese sak en brandweerpak wat permanent in sy voertuig was. Hy het nooit verby ‘n ongelukstoneel gery sonder om hulp aan te bied en iemand se lewe te probeer red nie,” sê Carika. Hy het ook gereeld na ure as polisiereservis in Deneysville diens gedoen.
Hy was die afgelope nege jaar aan Rockent Industrial Services verbonde, waar hy by verskeie aspekte van die onderneming se werksaamhede betrokke was.
“Riaan was ‘n opregte mens en ‘n ware staatmaker by die werk. Ons sal hom veral onthou vir al sy hulp met die jaarlikse oudits. Hy was regtig ons go to guy wat enige probleem kon oplos. Ons gaan hom verskriklik mis by die werk. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie,” sê ‘n kollega, Jeanne Swanepoel.
Sy familie is ook nog sprakeloos oor hul verlies. “Riaan het voluit gegaan met alles wat hy aangepak het, in sy werk sowel as met sy welsynsprojekte. Duncanville se gemeenskap het altyd gesê niks was vir Riaan te moeilik nie en tyd was nooit ‘n faktor vir hom om iemand in nood te help of om ‘n fondsinsameling te reël nie. Dit was sy lewe en passie. Hy was ‘n pappa, eggenoot en oupa duisend, op wie ons altyd kon staatmaak. Hy was ‘n legende in die Vaaldriehoek wat diep spore getrap het,” sê sy vrou. Hy word buiten Carika ook oorleef deur sy kinders, Hanru, Helgard en Etienne.
Sy gedenkdiens is op 8 Julie uit die Charisma Fellowship-kerk in Duncanville deur pastoor Mozzie Delpeche van die Bikers Church gelei.
* Die gesin wil graag in verbinding tree met ooggetuies van die ongeluk. Enigiemand met inligting kan Carika kontak by 084 625 4619.



Wyle Riaan Barnard.
******************************************************************
