Man sterf na fratsbotsing teen lamppaal
Hoewel die motorbestuurder skynbaar geen beserings opgedoen het nie, het hy enkele minute later gesterf - vermoedelik weens ‘n hartaanval.
Vereeniging is vanjaar 130 jaar oud. Om dié mylpaal te herdenk, kyk Vaalweekblad vanjaar terug na ongewone nuusgebeure wat deur die jare hier afgespeel het. Hierdie is een daarvan:
Voertuigbotsings is niks ongewoon in die Vaaldriehoek nie, maar een wat verslaggewers tot vandag toe bybly, is ‘n voorval wat in Februarie 2010 in Vereeniging afgespeel het.
Vaalweekblad van 24 Februarie 2010 berig dat mnr. Robbie Venter (64) die betrokke middag omstreeks 14:00 in Generaal Hertzogstraat, langs die Barnyard-teater, beheer oor sy luukse Duitse motor verloor en met die hele voertuig skuins teen ‘n lamppaal geëindig het.
Hoewel hy skynbaar geen beserings opgedoen het nie, het hy enkele minute later op die toneel gesterf – vermoedelik weens ‘n hartaanval.
Hy is nog kort na die ongeluk deur omstanders uit sy skuinsstaande voertuig gehelp en het aan omstanders gesê hy is “fine”. Hy het toe na die oorkant van die straat gestap, waar hy inmekaar gesak en gesterf het.
Omstanders het dadelik mond-tot-mond asemhaling begin toepas totdat paramedici opgedaag het om oor te vat, maar hulle kon niks meer vir mnr. Venter doen nie. Hy is op die toneel dood verklaar.

************************************************************
