Local newsNewsNews

Onse mnr. Laubscher het daagliks saam met ‘n leeu gedraf

Dit was ‘n groot lekkerte en voorreg om met ‘n oud-onderwyser uit my laerskooldae, Mnr. Thunis Laubscher te gesels wat op 31 Julie na bykans 40 jaar in die onderwys afgetree het.

VANDERBIJLPARK. – Mnr. Thunis Laubscher het sy onderwysloopbaan amptelik in 1983 by die Laerskool Frikkie Meyer begin.

In 1985 het hy by die Laerskool Oospark aangemeld as onderwyser en einde Julie 2022 het hy by Oospark afgetree.

Mnr. Laubscher tydens Laerskool Frikkie Meyer se std. 5 afskeid in 1984.

Vir 39 jaar is honderde leerlinge deur die man met sy stille rustigheid geleer.

Hy was een van my onderwysers by Laerskool Frikkie Meyer en hy was een van die bestes. Ons het altyd respek vir hom gehad, maar was nie bang vir hom nie.

Dit was goed om hom na al die jare weer te sien. Mnr. Laubscher se oë weerspieël steeds dieselfde deernis, sy rustige stem dra dieselfde gesag oor.

Me. Maggie Swart (waarnemende adjunkhoof), mnr. Thunis Laubscher en Laerskool Oospark se hoof, me. Vangile Majola. Foto: Gerda Bruinette

Die jare het hom wyser en gryser gemaak, maar die empatie is steeds daar.

Vanderbijlpark is deel van hom. Hier het hy self skoolgegaan by Laerskool Noordhoek en Frikkie Meyer en hier het hy in 1976 aan die Hoërskool Vanderbijlpark gematrikuleer.

Na skool het hy eers sy onderwysdiploma aan die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege verwerf, alvorens hy vir sy twee jaar diensplig aangemeld het.

Hy was die grootste gedeelte van sy weermagdae in die Caprivi, sowat 10 km van die Angola grens gestasioneer.

Mnr. Thunis Laubscher saam met die weermagkamp se wilde leeu, Teddie. Foto’s: Verskaf

Daar het hy algou ‘n skool in die kamp opgerig vir die plaaslike kinders. “Hulle was gedissiplineerd en gretig om te leer,” vertel hy.

Sy oë blink en ‘n ondeunde glimlag verskyn. “Dit was ‘n ‘recce’ kamp en ons het ‘n wilde leeu gehad,” vertel hy. “Ek sal vir jou foto’s stuur,” voeg hy by toe my ongeloof op my gesig wys.

“Teddie was ‘n leeuwelpie toe ons hom gekry het. Daar was oorspronklik twee wees-welpies, maar Lisatjie het dit nie gemaak nie.

“Teddie het uiteindelik ‘n uitgegroeide maanhaar geword. Hy het meeste van die tyd saam met die wilde trop gebly, maar het gereeld saam met die trop by die kamp opgedaag.

“Dan het die ander leeus omgedraai en weer in die veld verdwyn en Teddie het die kamp ingekom en so twee weke by ons gebly voor hy weer pad gevat het. Ek en hy het gereeld in die oggende vyf kilometer saam gaan draf,” onthou hy met ‘n glimlag.

In sy jonger dae het hy veldspring- en landloopatlete afgerig. Hy was ook betrokke by die Voortrekkers in die dae wat dit nog by die skole aangebied is. “Ek het ook met Volkspele gehelp hier by die skool in 1985,” lag hy.

In sy loopbaan het hy bykans al die vakke aangebied, maar het altyd ‘n voorliefde vir aardrykskunde en geskiedenis gehad.

“Ek wou eintlik ‘n argeoloog word, maar daar was nie geld om dit te gaan studeer nie,” vertel hy. Hy het wel al kans gehad om artefakte te gaan opgrawe.

Mnr. Laubscher het nog altyd ‘n groot belangstelling vir argeologie gehad.

So was hy op ‘n argeologiese ekspedisie na Israel in 1984. Hy beplan ook om na sy aftrede die nuwe museum in Egipte te gaan besoek.

“Ek hou van geskiedenis en het ook ‘n liefde vir skilderye. By die huis het ek by die 96 skilderye wat enige iets van ou kaarte tot by etse en olieverf skilderye insluit.”

Alhoewel sy gesondheid nie na wense is nie, geniet hy dit steeds om in die tuin te werk en houtwerk te doen.

Dan het hy ook ‘n spesiale plek in sy hart vir diere en sê as hy ooit die lotto sou wen, sal hy al die geld gebruik om die DBV te help.

Sy kollegas het met ‘n swaar hart van hom afskeid geneem, alhoewel hul hom sy aftrede gun.

Laerskool Oospark se skoolhoof, me. Vangile Majola, het gesê: “I’m heartbroken that he is going away, but he told me he taught many of the younger teachers here, that helps.”

Die skool se waarnemende adjunkhoof het gesê sy en mnr. Laubscher het vir byna 31 jaar saam skoolgehou. “Hy is my skoolboetie,” het sy met ‘n glimlag vertel.

Mnr. Laubscher het nou amptelik uit die onderwys getree, maar sy woorde eggo nog in sy oudleerlinge se harte.

“Ek glo in dissipline. Dissipline lei tot selfdissipline wat lei tot ‘n goeie selfbeeld en met ‘n goeie selfbeeld kan jy jouself handhaaf as volwassene.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button