Eureka Ope 2022 lewer skaak uit die boonste rakke
Die spanning het hoog geloop by hierdie jaar se Eureka Skaak Ope, maar daar was ook tyd vir pret en mooi musiek.
VEREENIGING. – Eurekaskool kon op 30 Julie weer hul jaarlikse Eureka Skaak Ope by die skool aanbied. Hierdie groot skaaktoernooi het in 2018 afgeskop, maar moes die afgelope twee jaar aanlyn plaasvind.
Dit was vir die 238 spelers en hul ondersteuners ‘n groot vreugde om uiteindelik weer van aangesig-tot-aangesig te ontmoet.

Die oggend se verrigtinge is afgeskop met sang en musiek deur Johan Erasmus, Rika Dippenaar en Gert Beukes, waarna die opening deur die skoolhoof, Dr. Amanda Lombard waargeneem is.
Die skaakkomitee het ook van die geleentheid gebruik gemaak om hul dank teenoor Dr. Amanda uit te spreek in die vorm van ‘n videoboodskap wat persoonlik deur Laurika Rauch vir haar opgeneem is.
Die hoofarbiter was die Internasionale Arbiter Michael Bornheim. Eurekaskool is baie trots dat een van hul oudleerders, Christiaan Diederichs, ook as arbiter by die pret-afdeling en die Eureka-spelers diens gedoen het.

Die A-D afdelings het volgens gradering ingeskryf en die E-H afdelings was volgens ouderdomme ingedeel. Dan was daar ook ‘n pret-afdeling waar die spelers grappies gemaak het.
Eureka se fisies en intellektueel erg gestremde skaakspelers het in hul eie afdeling skaak gespeel. In hierdie afdeling het is die eerste drie plekker verower deur Kagiso Molefi (3de), Tsholofelo Motlomelo (2de) en Lindiwe Kololo (1ste).
Lindiwe is ‘n gesoute Sedibeng skaakspeler. Sy is serebraal gestremd en maak haar skuiwe op ‘n blinde skaakbord.
Daar was baie sterk kompetisie in die A-Afdeling. Verskeie van die spelers het Suid-Afrika al ‘n paar maal verteenwoordig en vier van hulle het skaaktitels wat deur die Internasionale Skaakfederasie toegeken word. Vyf spelers se gradering was oor die 2000.
Die beste dame van die Eureka Ope 2022 was Hayley Nel van Benoni. Die alehele wenner was Jakob Mnguni van Tshwane.
Die adjunk president van Guateng Skaak, Vicky Magu het tydens die Eureka Ope aangekondig dat daar nog twee toernooie in die jaar gaan plaasvind waar gestremde skaak ingesluit is, die O.R Tambo – Soncini Social Cohesion Games en die Premier Social Cohesion Games.
Mxolisi Nhlapo van Eurekaskool gaan tydens die openingseremonie die spele open. Hy maak skaakskuiwe met sy voete.
Eurekaskool is trots op hul spelers wat gekwalifiseer het om Sedibeng by die Suid-Afrikaanse Junior Skaakkampioenskappe vir hoofstroomskole te verteenwoordig.
Die spelers is Nkosinathi Khumalo, Tumisho Zimunya, Lindiwe Kololo, Kagiso Molefi en Phillip Van der Merwe.
