LifestyleLocal newsNews

Fratsongeluk op R59-snelweg: Kar afgeskryf deur weghol-wiel

"Ek het net my oë toegeknyp en geweet dit gaan my kar reg van voor tref.”

VEREENIGING. – “Die los wiel het met ‘n verskriklike spoed oor die pad gekom en was skielik voor my. Ek het probeer uitswaai en rem trap maar het besef dis te laat. Ek het net my oë toegeknyp en geweet dit gaan my kar reg van voor tref.”

So vertel mev. Vienie Martins (54), ‘n produkspesialis by Aury Africa, oor haar skokervaring van Vrydag, 5 Augustus op die R59-snelweg, toe ‘n wiel van ‘n trok se sleepwa losgekom en haar voertuig met ‘n geweldige slag getref het.

“Ek was net na 12:00 die middag van Arconpark af met die R59 op pad na my huis in Henley-on-Klip, toe ek net na die Redan-afrit sien hoe ‘n los wiel teen ‘n hoë spoed uit die aankomende rigting se verkeer oor die middelmannetjie spring. Alles het so vinnig gebeur dat ek in daardie oomblik besef het ek sal dit nie kan vermy nie. Die volgende oomblik was dit óp my. Toe dit tref, het albei my Renault Stepway se voorste lugsakke ontplooi en ek het tot stilstand gekom,” sê Vienie.

Die los wiel het nog ‘n ent verder gespring en net ‘n paar meter van waar mense besig was om ‘n pap band langs die pad te ruil, tot stilstand gekom.

‘n Afgetrede polisiefotograaf, mnr. Len Langenhoven en sy vrou, wat ‘n ent agter Vienie gery het, het dadelik gestop om hulp aan te bied. Len het terselfdertyd gesien dat ‘n wit BMW aan die teenoorgestelde rigting van die R59 probeer het om ‘n trok se aandag te trek. Hy het een-en-een bymekaargesit en besef dat die trok moontlik iets met die los wiel te doen gehad het. Hy het die trok ook agternagesit en die drywer laat omdraai na waar Vienie se voertuig gestaan het. Die drywer was salig onbewus daarvan dat een van sy sleepwawiele losgekom het en was erg geskok toe hy uitvind dat dit die fratsongeluk veroorsaak het. Len het gesien dat ‘n tweede wiel van die trok se sleepwa ook los was en waarskynlik ook binnekort heeltemal sou afkom.

“Len en sy vrou was soos engele uit die Hemel. Ek het nie geweet of ek kom of gaan nie maar hulle het my met alles gehelp. Len het basies oorgeneem, my versekering gebel en foto’s op die toneel geneem. Hy het ook gereël dat my voertuig ingesleep en ek huis toe geneem word,” sê Vienie.

Hoewel Vienie op die toneel net bewus was van ‘n seer kakebeen, het sy later die dag besef dat haar bors, rug en gewrigte ook seer was en dat sy ‘n harde stamp teen haar knie weg het. Gelukkig was haar beserings nie ernstig nie en het sy nie mediese behandeling nodig gehad nie. Haar voertuig is afgeskryf en sy het intussen ‘n nuwe gekoop.

“My versekering is in verbinding met die eienaars van die trok, maar ek moet sê die maatskappy is baie behulpsaam en aanvaar verantwoordelikheid. Iemand van hul hoofkantoor het my die Maandagoggend gebel om seker te maak ek is oukei,” sê Vienie. “Ek het agterna gehoor mense is al dood nadat hulle deur sulke weghol-wiele getref is. Ek is baie dankbaar die Here het besluit ek moet nog bietjie langer op aarde wees.”

 

Mev. Vienie Martins se Renault Stepway is onherstelbaar beskadig deur die wiel wat haar voertuig teen ‘n hoë spoed getref het nadat dit van ‘n trok se sleepwa losgekom het. Foto: Len Langenhoven

 

Die weghol-wiel het digby mense wat besig was om ‘n pap band langs die pad te herstel, tot stilstand gekom. Foto: Len Langenhoven

 

Mev. Vienie Martins.

 

Mev. Vienie Martins by haar nuwe voertuig wat sy moes aanskaf nadat haar Renault afgeskryf is.

 

Die wrak van Vienie Martins se voertuig.

************************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button