Local newsNewsNews

Vaal Mall se besige, maar behulpsame bestuurder

Ons maak nader kennis met Carla De Villiers-Malan bemarkingsbestuurder van Vaal Mall en die dryfkrag agter die sentrum se baie gemeenskapsprojekte.

VANDERBIJLPARK. – Carla De Villiers-Malan se foon is heeltyd besig, maar sy bly vriendelik en met hope geduld help sy elkeen wat skakel. As bemarkingsbestuurder van Vaal Mall is sy gewoond om besig te wees.

Carla De Villiers-Malan. Foto’s verskaf

Sy is eintlik van Pretoria, maar beskryf haarself meer van ‘n bosmens. “Daar is darem niks lekkerder as ‘n vuurtjie en ‘n yskoue biertjie nie,” lag sy.

Sy het haar skooljare in Colbyn, genestel in Pretoria se Moot-area, baie geniet en het in 2001 aan die Hoërskool Oos-Moot gematrikuleer.

Daarna het sy Internasionale Kommunikasie aan die Tshwane University of Technology gaan studeer.

“Ek wou eintlik ‘n diplomaat word, maar toe ek my oë uitvee, het ek by die Centurion Mall begin werk. Later jare was ek een van die span wat die Clearwater Mall in Roodepoort begin het.”

In Mei 2007 het sy haar by Vaal Mall se span aangesluit. “Sjoe, vir ‘n Pretoria-meisie was daardie eerste winter in die Vaaldriehoek baie koud,” onthou sy.

Carla en haar kollegas. Voor: Shana Maree-Paraskevopoulos, Gavin Vague, Fikile Zulu en Lusanda Gxasheka. Middel: Gertrude Koetlisi, Patricia Mukeba, Mbali Mototi en Reece Norris. Agter: Beyers Weber en Carla.

“Ek het daagliks omtrent my hele klerekas aangetrek en net die heeltyd gedink hoe koud ek kry.”

Dit was totdat een van haar kollegas haar eendag bietjie die omgewing gaan wys het. Hulle het onder meer by die skakelhuisies verby gery.

“Hoe meer ek die kinders sonder skoene buite sien speel het, hoe slegter het ek gevoel. Ek onthou die een seuntjie wat daar bo-op een van die rooi brandkrane gesit het sonder skoene en met ‘n te klein sweetpakkie aan. Ek het net gedink as hulle die winter kan maak, kan ek ook.”

Dis ook daar waar haar passie om mense te help begin het. Carla is die dryfkrag agter Vaal Mall se vele gemeenskapsprojekte. Self hou sy nie van die kollig nie, maar sê sy gee nie om om agter die skerms te werk en haar hande vuil te smeer nie.

“Solank ons ‘n verskil in mense se lewens kan maak, is ek tevrede,” glimlag sy en haar oë blink sommer ekstra as sy vertel van ‘n nuwe ragdoll/lappop projek wat geloods word.

“Ons wil 3 000 lappoppe insamel vir kinders wat weens gesinsgeweld en ander omstandighede by die shelters beland. Hulle moet iets kan hê wat hul kan vashou en wat hulle kan comfort,” sê sy, en sy moet eers ‘n sluk koffie neem om die trane weg te sluk.

“Dit gaan ook nie net lappoppe wees nie, oumas wat poppe kan brei of hekel kan ook help,” beduie sy. “Ons wil niemand uitsluit nie.”

Haar werk neem baie tyd in beslag, en juis daarom is familietyd vir haar so belangrik. Carla en haar gesin woon in Parys, want hulle wil graag hul kinders, twee dogters en ‘n seun, die geleentheid bied om in ‘n kleiner dorp groot te word.

“Ons spandeer baie tyd as gesin saam en sal sommer net gaan rondry en nuwe plekke besoek. Ons is almal lief vir die natuur en geniet dit om saam bergfiets te ry.”

Haar man Gert, ry al jare fiets, maar die gogga het haar sowat ‘n jaar gelede gebyt.

Wanneer hulle nie fietsry nie, sing Carla ook in die Deo Gloria koor in Vredefort en dan is daar al die doen-dit-jouself projekte wat sy en Gert saam aanpak.

“Ons het onlangs die badkamer saam oorgedoen,” beduie sy en begin dan lag, “wel, eintlik het hy gedoen en ek het die idees gegee.” Die Pretorianer het nou ‘n Vaaldriehoeker geword.

“Ek werk lekker in Vanderbijlpark en is lief vir die mense. Almal vra altyd of dit nie vreeslik ver is om elke dag van Parys na Vanderbijlpark te ry nie. Dan lag ons net, want in Pretoria kan jy maklik ‘n uur aan 12 km ry en hier vat dit my minder as ‘n halfuur werk toe en terug.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button