BusinessLifestyleLocal newsNews

Só open sakevrou ‘n nuwe toekoms vir werkloses met potensiaal

Wanda Nel nooi alle maatskappye of individue wat graag by haar projek betrokke wil raak, om haar te kontak by 082 320 8432, of stuur ‘n e-pos na wandanel@nbtraining.co.za

VANDERBIJLPARK. – Die Covid-virus en inperking het die afgelope twee jaar ekonomiese verwoesting in Suid-Afrika gesaai, maar in die Vaaldriehoek is daar nog sakemense wat meer as hul deel doen om ‘n helpende hand aan ander in nood uit te steek.

Wanda Nel, ‘n geregistreerde belastingpraktisyn en eienaar van NB Training Academy in Vanderbijlpark, is een so ‘n sakevrou wat buite die boks dink om minderbevoorregtes te help.

Met werkloosheid wat net aanhou styg in die Vaaldriehoek, het sy die afgelope maande werklose mense met potensiaal bygestaan om gesogte kursusse te voltooi.

“Hier is soveel mense wat bittergraag hul toekoms en kans op werksgeleenthede wil verbeter maar nie die nodige kwalifikasies het nie en ongelukkig glad nie die kursusse kan bekostig nie. Ek het vanaf November 2021 sowat 235 navrae gekry van mense wat baie graag die Sage Pastel en Microsoft Office kursusse wou doen, maar eenvoudig nie die fondse gehad het nie. Ek het toe besluit op ons gratis opleidingsprojek. Ek het mense met potensiaal geïndentifiseer en hulle gevra om ‘n motivering te stuur waarom hulle die kursusse wil doen en wat hulle graag wil bereik. Ons het 38 motiverings ontvang en ek het net weer besef hoe groot die nood daar buite is,” sê Wanda.

Omdat NB Training Academy ‘n geakkrediteerde Sage en Microsoft Office opleidingsentrum is, moet die opleidingsmateriaal direk by die instansies aangekoop word. Die koste om een persoon in Sage Accounting op te lei, beloop R10 533. Die koste om een persoon in Sage Payroll op te lei, is R13 167.

“Om almal die geleentheid te gee vir gratis opleiding, is finansieel ‘n onbegonne taak vir my alleen. Ek het toe van my eie kliënte gekontak en borgskappe vir drie persone gekry. Ek het toe een persoon self geborg en kon vir vier studente die gratis opleiding aanbied. Die opgewondenheid en dankbaarheid van dié vier mense was onbeskryflik,” sê Wanda.

Sy bedank graag FGH Equipment Rentals & Services, Stefanus en Leilani Cloete, en CMW Pack, Chantel Marais vir hul borgskappe. Sy nooi alle maatskappye of individue wat graag by haar projek betrokke wil raak, om haar te kontak by 082 320 8432, of stuur ‘n e-pos na wandanel@nbtraining.co.za

 

Me. Wanda Nel, bekende belastingpraktisyn en eienaar van NB Training, het ‘n projek geloods om werklose mense met potensiaal te help om intensiewe opleiding en beter kwalifikasies te kry.

******************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button