Vaal Car Hire: Na byna 60 jaar is sy woord steeds sy eer
Kontak Vaal Car Hire gerus by (016) 421 1696/7 vir meer inligting oor hul beskikbare voertuie en dienste.
VEREENIGING. – Maatskappye of individue het soms ‘n behoefte om produkte of mense dringend te vervoer, maar het nie altyd self die regte voertuig vir die taak nie. Dis hier waar Vaal Car Hire handig te pas kom. Dié onderneming bied al vir byna 60 jaar sulke dienste met groot sukses in die Vaaldriehoek, die res van Suid-Afrika en ons buurlande aan.
Mnr. Dave Sacks, destyds eienaar van Philips Motors en die Toyota-handelaars in die Vaaldriehoek, het reeds in die middel van die vorige eeu bystandvoertuie aan groot nywerhede soos Stewarts and Lloyds begin verskaf wanneer hul eie voertuie gediens moes word. Dit het uiteindelik uitgeloop op die stigting van ‘n amptelike verhuringsdiens, Vaal Car Hire, wat in 1965 geregistreer is. Dit is destyds met slegs twee huurvoertuie, ‘n Volkswagen Kewer en ‘n Ford Zephyr, begin. Vandag het Vaal Car Hire ‘n vloot van meer as 200 voertuie wat wissel van gewone passasierskarre en minibusse tot bakkies en trokke, wat op kort- of langtermyn gehuur kan word – selfs met ‘n bekwame drywer as jy nie self wil bestuur nie.
‘n Vrystater uit Marquard, Peet Smith, het in Junie 1974 as jong kredietbestuurder by die Philips Motorgroep in Vereeniging aangesluit. Hy was toe al baie betrokke by Vaal Car Hire, wat deel van die groep was. Toe die Philips Motorgroep in 1982 verkoop is, het Dave en Peet Vaal Car Hire as direkteure voortgesit, totdat Peet dit in 1990 as eienaar en hoofuitvoerende beampte alleen verder geneem het. Vandag is Vaal Car Hire in De Villierslaan 7, Vereeniging, ‘n trotse familie-onderneming: Peet se seun, Morné Smith, het reeds in 1992 by hom aangesluit en in 2020 die operasionele leisels by hom oorgeneem. Vandag is Peet se kleinseun, Clinton Smith, ook aktief by Vaal Car Hire betrokke.
Peet onthou met genot die beginjare toe Vaal Car Hire voordeel kon trek uit die blomtyd van Suid-Afrika se ekonomie, en die onderneming verskeie groot konstruksiekontrakte gekry het. So moes hulle byvoorbeeld in die 1980’s op een slag 120 Hilux-bakkies aan die konstruksiereus Basil Reed verskaf! Mededinging tussen verskaffers van huurvoertuie was vurig, maar danksy Vaal Car Hire se uithalerdiens en goeie naam het die onderneming spoedig dwarsdeur die land die eerste keuse vir baie nasionale nywerhede, konstruksiemaatskappye en die myn-industrie geword wan n eer hulle huurvoertuie benodig het.
Peet se resep vir sakesukses klink eenvoudig: Bestuur jou personeel, bestuur jou voorraad en bestuur jou finansies, dan kan min dinge skeefloop. “Uitstekende, vinnige diens en betroubaarheid is egter die allerbelangrikste. Jou woord is jou eer en as jy gesê het jy lewer ‘n voertuig op ‘n sekere tyd af, dan hou jy daarby. Omdat mededinging veral in die beginjare so sterk was, het ons geweet ons mag kliënte nooit laat wag nie want daar was baie mededingers na wie toe hulle dan kon gaan,” sê Peet.
Dit is nie aldag ‘n spanningsvrye werk nie en Peet onthou met ‘n glimlag hoe ontsteld hy aanvanklik was as sy blink, vleklose voertuie in ‘n gehawende toestand vol stampe en skrape terugkom (of soms glad nie teruggekom het nie!), maar dit was alles deel van die besigheid en so vind mens deur die jare maar oplossings vir elke probleem, sê hy. Met die afplatting van die ekonomie, die konstruksie- en mynbedryf, het Vaal Car Hire mettertyd sy diensverskaffing na ander sektore uitgebrei en vandag word omvattende dienste ook aan koeriermaatskappye, openbare transport, die toerismebedryf en individue gelewer.
Buiten vir die outydse waardes waarop Vaal Car Hire gebou is, het die stabiele, lojale personeelkorps ‘n groot rol in die onderneming se sukses gespeel, sê Peet. Hy het ook groot lof vir sy gesin en spesifiek vir sy vrou, Marie, vir hul ondersteuning deur die jare.
“Daar word gesê, agter elke man wat die hoogste sport van die leer bereik, staan daar ‘n vrou wat die leer vashou. Daarvoor sê ek baie dankie aan my vrou!”
* Kontak Vaal Car Hire gerus by (016) 421 1696/7 vir meer inligting oor hul beskikbare voertuie en dienste.


Foto bo: Drie generasies van die Smith-familie is vandag by Vaal Car Hire betrokke. Heel regs is Peet Smith, met sy seun Morné en kleinseun Clinton wat ook ‘n integrale deel van die onderneming is.


***************************************************************************************************************
